’n VERSOEK van die internasionale organisasie People for Ethical Treatment of Animals (PETA) om Suid-Afrikaanse bokhaar te verban nadat gevind is dat van die diere onbehoorlik behandel is in die skeerhokke, is te streng, maar alle negatiewe optrede moet gestaak word.
Volgens Schalk Burger, senior bestuurder van statutêre aangeleenthede van die nasionale landbou-bemarkingsraad (NLBR), het hulle ’n ondersoek geloods nadat ’n video internasionaal gesirkuleer is deur PETA wat die ongewenste behandeling van diere binne ’n skeerhok toon.
“Hierdie ongewenste behandeling van angorabokke kan onder geen omstandighede deur die NLBR goedgepraat word nie en die bedryf moet die skeerhok identifiseer en die situasie regstel,” het Burger gesê.
“Ethical Trade is ’n praktyk of besigheid wat deur die NLBR ondersteun word en dit is dus noodsaaklik dat die sybokhaarbedryf alle negatiewe behandeling, soos in die video vertoon word, regstel.
“Wanneer ons na die video kyk, lyk dit of die behandeling in een of twee skeerhokke plaasgevind het, tog dui die boodskap wat uitgedra word asof dit gewone praktyk is. Boere in Suid-Afrika is baie geheg aan hulle diere en behandel hulle met respek, aangesien dit is vanwaar hulle hul inkomste kry,” het Burger gesê.
Burger het bygevoeg dat die transformasie van die bokhaarbedryf goeie groei toon deur swart boere wat in die hoofstroom-produksie betrokke raak. Die bedryf het ’n trustfonds daargestel om ’n aantal swart boere by te staan om die bedryf te transformeer.
Die versoek deur PETA dat bokhaargoedere verban word is streng, aangesien die swak behandeling slegs in enkele skeerhokke voorgekom het, en eerder as ’n openbaring beskou moet word, het Burger gesê.
“Die NAMC het goeie werksverhoudings met die Sybokhaarbedryf en sal direk met hulle kontak maak om te verseker dat hierdie onnodige praktyk uitgeroei word.
“Die bokhaarbedryf is ’n waardevolle bedryf vir die sosio-ekonomiese toestand van baie lewens, en die karoo-omgewing behoort nie so streng behandel te word soos waarop PETA aangedring het nie,” aldus Burger.
Deon Saayman, besturende direkteur van die SA-sybokhaarbedryf, het vroeër gesê die vermoede bestaan dat die video saamgestel is deur ’n buitelandse besoeker wat homself voorgehou het as iemand wat belangstel daarin om na Suid-Afrika te verhuis en in die bedryf betrokke te raak.
“Die angorabok is sekerlik die kleinvee-tipe wat voedsel die beste omskep in vesel en dit is juis die vesel en die kwaliteit daarvan wat die inkomste vir die boer bepaal. Dit is ook uiters noodsaaklik om te verseker dat diere gemaklik is tydens die skeerproses en hantering op standaard is,” het hy gesê.
“Die bedryfstrukture sal alles binne hul vermoë doen om te verseker dat die korrekte beeld van die bedryf aan die buitewêreld oorgedra word en die volhoubaarheid van die bedryf in Suid-Afrika te verseker,” aldus Saayman.