Petro Marais is ’n plante-fundi

SY is al vir 50 jaar in die bedryf en daar is nie ’n tuinplantjie wat jy kan aanvra, wat sy nie ken nie.


SY is al vir 50 jaar in die bedryf en daar is nie ’n tuinplantjie wat jy kan aanvra, wat sy nie ken nie.

Petro Marais, wat aanvanklik haar kwekery as Country Living bedryf het, is nou daagliks te sien in die groot kwekery agter The Shed-restaurant in Cradock waar sy die septer swaai.

Sy vertel dat dit alles begin het met Cradock se jaarlikse tuinkompetisies toe sy elke jaar as wenner aangewys is.

“Die ander klomp was nogal baie ongelukkig daaroor en het voor-gestel dat ek liewer ’n beoordelaar moet word,” het sy vertel.

“Mense het toe begin vra dat ek hulle tuine moet kom uitlê, maar daar was destyds net een kwekery wat behoort het aan ’n vrou in Middelburg, en ek kon nooit die plante kry wat ek wou aanplant nie. Ek het toe aangebied om die helfte van die besigheid, toe al bekend as Country Living, aan te koop en later het ek die hele plek oorgeneem. Dit was egter ’n bietjie klein.”

Sy vertel dat daar eendag, ná die vloed van 1974, ’n eiendomsagent na haar toe gekom het met ’n aanbod wat glo baie goed vir haar besigheid wou wees. Die perseel was op die hoek van Beeren- en Albertstrate wat sleg onder die vloed deurgeloop het.

“Ons het daardie middag deur die venster geklim om te gaan kyk. Die vloerplanke was opgekrul en dit was net modder waar jy kyk. Op die perseel het kriebosse hoër as ’n mens gestaan, maar al wat ek raakgesien het, was die pragtigste peerboom wat vol in blom was,” het Petro vertel.

Die koop is toe beklink en dit was baie harde werk om alles reg te kry, maar Petro het uiteindelik ’n gerieflike huis om in te woon en haar pragtige nuwe Country Living gehad. Vandag is haar woonhuis ook sommer deel van haar kwekery.

Sy het destyds oorweeg om dorp toe te trek aangesien sy baie in aanvraag was om tuine uit te lê. Dit het beteken dat sy vroegoggend in die tuine moes wees, die kwekery van 08:30 tot 17:00 moes beman en daarna weer in die tuine moes inval.

Op ’n stadium moes sy ses jaar in Johannesburg woon waar sy ook ’n pragtige tuin versorg het, maar toe haar dogter, Karin, bel en sê dat sy ’n restaurant gaan oopmaak en ’n kwekery oorweeg, het haar hart in haar keel gespring en wou sy sommer dadelik begin inpak.

Petro het baie boeke bestudeer en navorsing gedoen en, soos almal wat bietjie ouer word, vergeet sy – volgens haar – ook deesdae mense se name, maar die naam van ’n plant – hoe ingewikkeld ook al – het sy nog nooit vergeet nie!

Sy sê: “Mens moet onthou, elke ding het ’n plek om te staan en alles aard nie in ons klimaat van uiterstes nie. Lente en herfs is die beste tyd om te plant en mens moet altyd bietjie kompos of potgrond inspit wanneer jy in die Karoo plant.”

Vetplante wat jare gelede hoog in die mode was, is nou weer groot in aanvraag. “Seker omdat dit min water en versorging nodig het,” het Petro bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.