Picadilli’s is beslis die hart van Middelburg

VRA ’n man wat die hartklop van ’n Karoodorp is, en jy sal antwoorde kry wat wissel van kerk tot koöperasie tot kroeg. Vra ’n vrou, en sy sal sê, “Koffiewinkel!”.


VRA ’n man wat die hartklop van ’n Karoodorp is, en jy sal antwoorde kry wat wissel van kerk tot koöperasie tot kroeg. Vra ’n vrou, en sy sal sê, “Koffiewinkel!”

Sentraal geleë tussen ’n kwekery, koöperasie en hardewarewinkel in Middelburg, het Picadilli’s sedert 2007 ’n landmerk in dié dorp geword wat ewe veel byval vind by inwoners as besoekers.

Drie dinamiese vroue staan saam aan die stuur van hierdie leefstyl-koop-en-kuierplek met ’n atmosfeer van outentiekheid.

Margi Turner behartig aankope van die stylvolle uitrustings. Vir haar is kwaliteit en uniekheid nie onderhandelbaar nie. Daarom bekom sy Suid-Afrikaanse ontwerpersuitrustings en koop slegs een of twee van ’n soort.

“Die styl van die ontwerpe is klassiek en tydloos, en kan deftiger of meer informeel gemaak word met gepaste bykomstighede,” sê Margi.

Die koffiewinkel en deli is sedert Julie 2017 in Angeli van der Merwe se bekwame hande.

“Ons fokus veral op ons plaaslike ondersteuners – dié mense is die slagaar van Picadilli’s. Ons probeer ook toenemend om groen en omgewingsvriendelik te funksioneer, en pas ons spyskaart sover moontlik aan om plaaslike besighede te kan ondersteun.”

Angeli, wat vantevore in koerantreklame gewerk het, verstaan die behoefte van werkende mense.

“Ons streef daarna om ’n huislike, ontspanne atmosfeer te skep en flinke diens te lewer, sodat kliënte binne ’n uur nie net versadig nie, maar sommer ook verkwik hier kan wegstap.”

Hoewel sy al sedert 1990 geskenke en antiekhede verkoop, het Wendy Sykes haar vandeesmaand by Angeli en Margi aangesluit as derde lid van die vrolike trio. Sommer met die eerste tree oor die drumpel van dié winkel vang die pragtige versameling dekor en geskenke die oog.

Volgens Wendy is Picadilli’s trots Suid-Afrikaans. “Ons geskenke, dekor, kunswerke, klerasie, juwele en velsorgreeks (Justine) is feitlik grootliks Suid-Afrikaans vervaardig. Ons gemeenskaplike oogmerk is om aan ons kliënte ’n bogemiddelde koop-en-kuierervaring teen bekostigbare pryse te bied. Dit is nie nodig vir Middelburgers om die groot sentra te besoek om byderwetse modes of die nuutste dekorneigings te bekom nie.”

Picadilli’s het ook fasiliteite om klein konferensies, vergaderings, kombuistees, doopgeleenthede en kinderpartytjies aan te bied.

Vir meer inligting kontak Angeli van der Merwe by 049 842 4441.

You need to be Logged In to leave a comment.