PIENK Bome op Somerset-Oos het onlangs ’n baie suksesvolle gholfdag gehou om fondse in te samel om hul goeie werk onder die ongeveer 46 kankerpasiënte in die Blue Crane-area te kan voortsit.

Somerset-Oos se gemeenskap sorg dat die gholfdag elke jaar groter en beter word en vanjaar was daar nie minder as 19 spanne met vier spelers wat ingeskryf het vir die “4 bal American Scramble” nie.

Almal wat ’n gholfstok geswaai het, was baie beïndruk met die lowergroen baan by die Somerset-Oos-gholfklub.

Die pienk sambrele en die rye bome wat in pienk lap getooi was, het die gaste visueel deeglik bewus gemaak van die doel van die dag.

Riëtte Lombard en haar helpers se harde werk het gesorg vir ’n prettige en suksesvolle gholfdag. Somerset-Oos se gemeenskap het weer eens gewys dat hulle harte warm klop en dat hul beursies oop is vir ’n belangrike en goeie saak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article