ANNELISE Swart, ’n plaaslike gastehuiseienaar, het met Mid-Karoo Express se onlangse besoek haar resep vir wit- en donkersjokolademoussekoek gedeel.
Daar is vir haar niks lekkerder as om kos te maak nie. Haar baie volledige resepteboek, Kos sonder Grense, is al by die drukkers en gaan een van die dae sy plek op die winkelrakke inneem.
In dié boek verskyn al die resepte wat Swart deur die jare bymekaar gemaak het en ook ’n klompie wat sy self uitgedink het.
Wit- en donkersjokolademousse-koek
Lewer een groot koek
Donkersjokolademousse
Bestanddele
10 ml gelatien
30 ml water
3 eiers, geskei
500 ml room
300 g donkersjokolade, gesmelt en afgekoel tot kamertemperatuur
5 ml kitskoffiepoeier
10 ml water
Metode
- Los die gelatien in kookwater op.
- Klits die eierwitte baie styf.
- Klits die room styf in ’n groot mengbak.
- Vou die eierwitte stadig by die room in.
- Roer stadig die sjokolade by, gevolg deur die eiergele (liggies geklits) en dan die gelatien-oplossing.
- Los die koffie in die water op en roer dit ook stadig by.
- Skep die sjokolademousse op die koekbasis in die pan en smeer die bokant gelyk met ’n roerspaan.
- Plaas die pan in die vrieskas om ferm te word.
Witsjokolademousse
Bestanddele
10 ml gelatien
30 ml water
3 eiers, geskei
500 ml room
300 g witsjokolade, gesmelt en afgekoel tot kamertemperatuur
10 ml roomlikeur van jou keuse
10 ml water
Metode
- Los die gelatien in kookwater op.
- Klits die eierwitte baie styf.
- Klits die room styf in groot mengbak.
- Vou die eierwitte stadig by die room in.
- Roer die sjokolade stadig en versigtig by, gevolg deur die eiergele (liggies geklits) en dan die gelatien-oplossing.
- Roer die likeur stadig en versigtig by.
- Skep die witsjokolademousse in ’n aparte losboom-koekpan en maak die bokant gelyk met ’n roerspaan.
- Plaas die koekpan in die vrieskas om ferm te word.
Bolaag
Bestanddele
250 ml room
30 ml botter
30 ml suiker
300 g donker sjokolade in stukkies gebreek
50 g witsjokolade, gesmelt
Glanskersies
Metode
- Verhit die room, botter en suiker oor ’n lae hitte tot kookpunt.
- Roer die mengsel totdat die suiker gesmelt is.
- Voeg die donkersjokolade by en roer die mengsel tot dit glad is.
- Verkoel die mengsel tot dit dik is, maar nog gegiet kan word.
Afronding
- Ontvorm die donkersjokolade-laag met ’n skerp mes tussen die koek en die pan en maak dit los.
- Plaas die koek op ’n dienbord.
- Ontvorm die witsjokolade-laag op dieselfde manier en plaas dit bo-op die donkersjokolade-laag.
- Maak seker die rande pas op mekaar.
- Doop ’n mes in kookwater en smeer die rand glad.
- Skep die bolaag bo-oor en versier dit met strepies sjokolade en kersies