’N UITSTALLING van kunsstudente van Cradock word volgende Donderdag, 5 April gehou.
Dit is sover vasgestel kon word, die eerste maal in die dorp se geskiedenis dat so iets plaasvind.
Volgens Lou Venter, wat die klasse aanbied, is hul tema “Ons Karoo” en kan die studente enige iets van landskappe en geboue tot mense, plaas- of dorpslewe, voorstel.
Elke student het opdrag gekry om tien skilderye of meer op blokke van 25cm by 25cm te skilder. Hulle is almal plaaslike skilders wat vanaf 16:00 elke Woensdagmiddag klas by Venter loop.
Venter sê die studente werk die afgelope drie maande volstoom om vir die uitstalling gereed te maak. Daar gaan 80 skilderye ten toon gestel word en hulle sal teen ’n baie billike prys van R500 te koop aangebied word.
Die uitstalling op 5 April sal bokant Lou Juweliers by Adderleystraat 29 in Cradock gehou word.
Venter het almal uitgenooi om die uitstalling te kom bywoon en ’n glasie wyn saam met hulle te geniet. Die uitstalling begin om 17:30.
Venter wat klas gee vir agt voornemende kunstenaars, help hulle onder meer met olieverftegnieke en alles wat hulle nodig het om in die kunswêreld ’n sukses te maak.