Pretstappe gehou vir kankerbewustheid

MIDDELBURG se Springbok rugbyspeler Lorinda Brown het verskeie planne vir Middelburg se gemeenskap vir die komende naweek.


MIDDELBURG se Springbok rugbyspeler Lorinda Brown het verskeie planne vir Middelburg se gemeenskap vir die komende naweek.

Omdat kankerbewustheid vir Brown van uiterste belang is, het sy vir 19 Oktober ’n “Pink Friday” pretstap vir die gr.R-klasse van Ellen Olivier en VDM Primêre Skool in Midros beplan. Die kleinspan sal ook bewus gemaak word van kanker. Vir haar is dit belangrik dat die saadjie van bewusmaking reeds vroeg geplant moet word.

Brown glo dat kanker oorwin kan word en dat vroegtydige voorkoming en bewusmaking noodsaaklik is.

Daarom word daar ook vir Saterdag, 20 Oktober ’n 5km kankerstap/draf vir Middelburg beplan. Almal word genooi om reeds 07:30 by Ons Handelshuis/Spar bymekaar te kom om saam-saam die 5km aan te pak net soos almal ook die stryd teen kanker saam-saam moet aanpak.

Verder word daar ook vir Saterdag, 3 November ’n onvergeetlike “Cuppa for CANSA”-oggend, in samewerking met KANSA, vir elke spesiale vrou op Middelburg beplan. Die funksie sal in die NG Kerksaal Middelburg plaasvind. Kaartjies teen R50 is by Engela Kruger by 082 823 7885 beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.