Reën bring min verligting

TERWYL welkom reën die afgelope paar weke oor baie dele van die Oos-Kaap geval het, is daar steeds baie boere in die Oos-Kaap wat nog geen of baie min reën gehad het.


TERWYL welkom reën die afgelope paar weke oor baie dele van die Oos-Kaap geval het, is daar steeds baie boere in die Oos-Kaap wat nog geen of baie min reën gehad het.

Francois du Toit, voorsitter van die rooivleis produsenteorganisasie (RPO) in die provinsie, het Maandag aan Mid-Karoo Express korrespondent Lourens Schoeman gesê die boere op plase in die Oos-Kaap waar min of geen reënval voorgekom het, voer hulle diere nie meer vir pro-duksie nie, maar vir oorlewing.

In dié gebiede heers ernstige kommer oor die winter wat voorlê, het du Toit gesê.

Boere in die provinsie gaan reeds vir byna drie jaar gebuk onder een van die ergste droogtes in ’n eeu en die meeste van hulle gebruik tans hulle laaste spaargeld vir die aan-koop van voer.

“Vrektes het in die jongste tyd effens afgeneem omdat die meeste swak vee reeds gevrek het, wat vo-rentoe ’n baie negatiewe impak gaan hê op die voorsiening van lammers aan die markte, wat tot groot verliese aan inkomste en vleistekorte kan ly.

“Weidingstoestande daar waar dit nog nie gereën het nie, of weinig gereën het, gaan steeds agteruit omdat die bossiekomponent vrek en dit baie langer gaan neem om te herstel,” het Du Toit beklemtoon.

“Die reën wat val is baie streperig, en die millimeters wat gemeet word verskil ook geweldig baie. In sommige distrikte is die die son daarby ook nog verskriklik warm en die bietjie vog wat in die grond is ná so ’n reën, word weer weggebrand.

“Hierdie gebiede is nou uiters kritiek. Daar is steeds weinig gebiede in die Oos-Kaap waar dit nie nodig is om die vee te voer nie, dit bly ’n gegewe.”

Du Toit het gesê die beskikbaarheid van water het sover net in sommige distrikte verbeter as gevolg van die reën, en die nood is op sy ergste in onder meer die distrikte van Willowmore Jansenville, Steytlerville en Rietbron.

“Sommige plekke het redelik reën gekry en daar is die plaasdamme se vlakke redelik, of het ten minste water, maar baie ander het nog niks. Daar is enkele gebiede waar wolkbreuke voorgekom het en plaasdamme gebreek het.”

Vervolg na bl.3

You need to be Logged In to leave a comment.