Vervolg vanaf bl.1
“IN grasveldgebiede waar reën wel voorgekom het, kan die boere al vee in die veld laat wei, maar in die gedeeltes met bossie-veld durf hulle nog geen vee in die veld sit nie, want baie bossies het gevrek weens die droogte.
“Dié wat nog lewe toon het nou wel ’n bietjie groenigheid, maar as jy nou vee daar laat wei gaan jy vir jouself enorme probleme veroorsaak. Die diere sal die veld dood vreet en dan is daar werklik niks oor nie.
“Boere moet nou baie versigtig wees met hulle veebelading in die veld,” het Du Toit gewaarsku.
Mid-Karoo Express korrespondent Nolan Venter berig dat ’n welkome, dog vreesaanjaende donderstorm die afgelope Sondag langverwagte verligting aan Fort Beaufort gebring het.
Hoewel vele televisiestelle en yskaste weens die weerlig en donderweer die gees gegee het, was inwoners dit eens dat die stortreën wat met die storm gepaard gegaan het, net die regte medisyne vir dié dorre dorp was.
Hoewel reën die vorige week sporadies oor die dorp uitgesak het, was Sondag se gietende reënbui die kersie op die koek.
Die reën wat met kort tussenposes in sterk vlae oor die dorp neergesak het, het gepaard gegaan met hewige donderbuie. Die storm het teen 5nm oor die dorp begin uitsak en toe dit bykans twee uur later bedaar, het sagte deurdringende reën deur die dag tot en met Maandagaand op die dorp neergesak. Malende waterstrome deur die dorp, langs sypaadjies en in omliggende woon- buurte was ’n welkome gesig en kinders het uitbundig daarin baljaar.
Mid-Karoo Express korrespondent in die Hofmeyr-omgewing, Teresa Opperman, berig dat daar verlede week ook deurdringende reën oor Hofmeyr en distrik geval het met tussen 22 mm en 50 mm reën wat gemeet is. Die Vlekpoortrivier het ook weer geloop, die tweede maal hierdie jaar, maar die eerste maal hierdie jaar van sy ontstaanpunt in die Bamboesberge.
Sterk stormwinde in die Doornhoek-omgewing het bome ontwortel en groot bome se takke afgewaai, en ook plek-plek verwoesting in tuine gesaai.