Renostervoëls pas aan in nasionale park

DIE groep van 40 rooibek-renostervoëls wat in Augustus 2010 in die Bergkwagga nasionale park (BNP) in Cradock losgelaat is, doen goed en alles dui daarop dat hulle baie goed aangeteel het.


DIE groep van 40 rooibek-renostervoëls wat in Augustus 2010 in die Bergkwagga nasionale park (BNP) in Cradock losgelaat is, doen goed en alles dui daarop dat hulle baie goed aangeteel het.

Die park se ere-veldwagters was verantwoordelik vir die projek om dié voëls van Limpopo provinsie na BNP te bring.

Volgens Fay Ludick, streeksbestuurder van kommunikasie vir SANParke in die Oos-streek, is die voëltjies slegs vir een week in ’n hok aangehou voordat hulle stelselmatig losgelaat is met die hoop dat die trop hom sou vestig en aanteel.

Die huidige sukses van die projek word gemeet aan die aantal jong voëltjies in die park sowel as dié van boere wat gereeld laat weet dat hulle van die voëls op hul plase gewaar. Van die voëltjies wat ook al in die Graaff-Reinet gebied gewaar is, is moontlik afstammelinge van BNP se trop.

Rooibek-renostervoëls lewe van bosluise en ander bloedsuiende vlieë en is gewoonlik te sien op bergkwaggas, buffels, koedoes en selfs beeste en perde. Ludick sê rooibek-renostervoëls is ook al met groot sukses in Addo Olifantpark nasionale park en ander bewaringsgebiede vrygelaat.

Vir die eerste keer sedert die voëltjies in BNP vrygelaat is, gaan navorsing deur Bergkwagga/Camdeboo-bewaringsgebied, sowel as die Endangered Wild Life Trust en ander belangstellendes oor hierdie voëltjies gedoen word.

Die projek gaan fokus op die gebiede rondom Cradock en Graaff-Reinet waar ’n opname aanvanklik gemaak sal word. Die moontlikheid bestaan dat rooibek-renostervoëls ook aan die Graaff-Reinet se kant van die bewaringsgebied vrygelaat sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.