TYDENS Retief Geelbek Merino’s se sewende produksieveiling wat op 31 Julie op Gordonsfontein in die Middelburg-Hanoverdistrik gehou is, is die duurste ram deur Mpho Sekonyela van Maseru, Lesotho, teen R110 000 gekoop.
Sekonyela het tydens die sesde produksieveiling, wat in Februarie 2018 plaasgevind het, die derde duurste ram teen R64 000 gekoop en was vasbeslote om nou op hierdie veiling die héélbeste en duurste ram geteel deur Retief Geelbek Merino’s saam te neem Maseru toe.
Sekonyela is tydens die veiling deur sy adviseur en vriend FD MPeoa aangehits om nie terug te staan vir die ander belangstellendes in die ram nie en deur te druk.
By navraag aan Sekonyela oor hoe hy oor sy kopie voel, het hy breëbors gesê, “Ek is baie trots om hierdie ram saam Maseru toe te neem!”
Die naas duurste ram is teen R52 000 aan JP Stander van Uniondale verkoop. Daar was ’n goeie aanvraag na ramme en al 82 ramme is op die veiling teen ’n gemiddeld van R12 000 verkoop terwyl die 1 067 ooie teen ’n gemiddeld van R2 740 verkoop is.
Vyf bulle van die Karoo Drakensbergerklub is ook op die veiling verkoop teen ’n gemiddeld van R27 800 wat die totale omset van die veiling op R4 046 600 te staan gebring het. Die veiling is deur BKB Cradock behartig.