Rindi Goosen is die ystervrou van Cradock

SY was al Suid-Afrika se vroueboer van die jaar en het groot spore in die sakelewe van Gauteng getrap, maar vandag is Rindi Goosen ’n boervrou, met ’n sake-onderneming in Cradock, wat sê sy sal nooit die Karoo verruil vir haar lewe in Gauteng nie.


SY was al Suid-Afrika se vroueboer van die jaar en het groot spore in die sakelewe van Gauteng getrap, maar vandag is Rindi Goosen ’n boervrou, met ’n sake-onderneming in Cradock, wat sê sy sal nooit die Karoo verruil vir haar lewe in Gauteng nie.

Rindi, wat eintlik ’n opgeleide onderwyseres is, het vir vyf jaar skoolgehou voordat sy die skool verlaat het en met groot gemak in ’n verskeidenheid uiteenlopende ondernemings ingestap het wat sy elk met groot sukses behartig het.

Haar eerste onderneming ná onderwys was om juwele vir die bekende Jenna Clifford te ontwerp, ’n werk wat sy ten volle geniet het en haar geïnspireer het om haar eie boetiek vir trouklere en juwele oop te maak.

Later het sy ook ’n kinderboetiek by-gevoeg.

Maar toe kry Rindi ’n klompie Ill de France-stoetskape present en sy verloor haar hart heeltemaal op hierdie diere. Sy vertel dat sy nog skape van top telers in die land aangekoop het en begin het om stoetramme te teel.

Sy het oor die land begin skou en baie kampioenskappe gewen.

“Ek het een keer vir ’n slaglamkompetisie ingeskryf waar ek die enigste vroue-deelnemer was. Daar wen ek, uit 140 karkasse, sowaar as vet die eerste, tweede en derde pryse. Was die klomp mans nie suur nie!” het sy vertel. Asof die skape nie genoeg was nie, het Rindi toe ook met Friesperde geteel en geskou.

En toe koop die ondernemende vrou ’n plaas met 40 000 uitvoerperske- en pruimbome. Op die plaas was daar ’n glasveselhuis waar sy begin het om Meilandina-miniatuurrose te kweek.

“Ek het drie rosies in ’n pot, aanvanklik vir Woolworths in Gauteng voor- sien en later vir Pick n Pay landwyd gelewer. Ek het veertien variëteite ge-kweek,” het sy vertel.

Later het sy die plaas verkoop en ’n kleinhoewe met 33 tonnels op gekoop. “Daar het ons hard gewerk, want ons het vir 17 jaar gemiddeld 40 000 potte, elk met drie rosies in, gelewer.”

Teen dié tyd is Rindi aangewys as Gauteng se vroueboer van die jaar en kort daarna ook as nasionale vroueboer van die jaar. Sy was ook Oosrand se sakevrou van die jaar.

En toe word Rindi die eienaar van ’n Engen-vulstasie en Wimpy in Gauteng. Later het sy vir Pieter Goosen ontmoet en hy het haar weggelok Karoo toe. Om alles te kroon het hy weer vir haar Ill de France-skape gekoop.

Die ooie word deesdae gekruis met Dohne merino’s en die resultaat is lammers wat baie vroeg slaggereed is.

Rindi ry elke dag Cradock toe na haar geskenk- en huisversieringswinkel.

Sy het Karoo Styl op 17 Julie 2015 in ’n klein kamertjie op die perseel van The Shed-koffiewinkel oopgemaak, maar intussen uitgebrei na ’n yslike winkel vol kosbaarhede.

Sy het ook ’n vertoonlokaal in Cradock-Oos en doen baie besigheid op die internet.

Rindi sê sy hou van kosmaak, maar haar groot liefde bly nog haar Ill de France-skape.

You need to be Logged In to leave a comment.