SEDERT Mid-Karoo Express op 9 Augustus berig het oor die massas rou riool wat rivierlope oorstroom in die Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM), het sake drasties vererger.
In Middelburg is die middelste van drie gravitasiepompe wat riool na die suiweringswerke moet voer, steeds stukkend. Dít veroorsaak dat dié dorp, met nagenoeg 20 000 inwoners, se suiweringswerke die afgelope weke nie funksioneer nie.
’n Mangat, wat toegang verleen tot die rioolsisteem wat riool uit Middelburg se dorp en KwaNonzame moet weglei na die suiweringswerke, spuit tans dubbel so sterk as tydens Mid-Karoo Express se eerste inspeksie daarvan op 6 Augustus.
Die Brakrivier, wat slegs per geleentheid vloei tydens die reënseisoen, loop nou al meer as 10km uit die dorp uit.
Marais van der Merwe is een van die boere op wie se grond dié situasie onhoudbaar geword het. Mid-Karoo Express het gaan ondersoek instel en sommer met die eerste oogopslag was dit duidelik dat boere al langs die Brakrivier ’n ramp in die gesig staar.
“Dit loop ondertoe by my werkershuise verby,” het Van der Merwe vertel, “en ek betwyfel dit nie dat hierdie groot hoeveelheid water na boorgate gaan begin deursyfer nie.”
Vervolg op bl.3