Vervolg vanaf bl.1
TYDENS Mid-Karoo Express se besoek aan die rivierloop op Van der Merwe se plaas, het ’n trop skape halflyf deur die water gehardloop waar die rivier ’n klipperige deurloop vorm, maar net anderkant dié vernouing vloei die rivier weer nagenoeg 10 meter breed en een tot twee meter diep.
Volgens Bulelane Lucando, tegniese bestuurder van die CHDM, is ’n eksterne kontrakteur nou aangewys om die stukkende gravitasiepomp in Middelburg te herstel en het die munisipaliteit ook ’n spesiale hoëdrukspuitmasjien gehuur om die talle verstoppings in die rioolstelsels van Cradock en Middelburg te verwyder.
CHDM raadslid Robbie Venske is egter moedeloos.
“Navrae word vaag beantwoord deur die tegniese afdeling, maar daadwerklike oplossing van die geweldig baie lekkasies en verstoppings geskied nie naastenby vinnig genoeg nie. Die store is steeds leeg, sodat daar geen beskikbare materiaal is om herstelwerk mee te doen nie,” het hy gesê.
“Die DA-koukus in CHDM oorweeg ernstige regstappe indien die situasie nie binne 21 dae ernstig aangespreek word nie. Ons kan nie toelaat dat inwoners se gesondheid deur munisipale laksheid in die gedrang kom nie.”
Inwoners van Bergsig in Cradock het vandeesweek twee keer sonder water gesit nadat die watertoevoerpype op twee plekke beskadig is en dit CHDM in albei gevalle ’n geruime tyd geneem het om die nodige herstelwerk te doen.