DIERELIEFHEBBERS van Fort Beaufort is warm onder die kraag nadat ’n seekoei wat vermoedelik uit die Visrivier afgedwaal en op ’n sitrusplaas hier beland het, voorverlede Saterdag op barbaarse wyse opgekap is en in kos-potte beland het.
Luidens Myron Mc Pherson, ’n werknemer van die Riverside si-trusplaas het die seekoeikoei haar opwagting bykans drie weke gelede op dié sitrusplaas gemaak. Sy het haarself in een van die si-trusboord se vele damme tuisgemaak maar gou daarna na ’n groter dam op dieselfde plaas verskuif.
Nie lank daarna nie het sy na ’n groter dam in die Magaleni woonbuurt op dié dorp migreer.
Die seekoei is deur sommige plaaslike inwoners as ’n bedreiging vir die gemeenskap asook vir kinders wat gereeld in dié dam gaan swem, beskou.
’n Helikopter het op dié betrokke Saterdag opgedaag waarna sy aan die vlak kant van die dam doodgeskiet is.
Die helikopter was glo skaars behoorlik in die lug toe die seekoei met ’n voertuig uit die water na die wal gesleep is. Hordes inwoners het daarna met byle, messe en pangas op die seekoei se karkas toegesak en binne die bestek van ’n half-uur het net ’n bloedkol van die weerlose dier oorgebly.
Met Mid-Karoo Express se besoek aan die toneel verlede week was ’n magdom mis en ’n groot bloedkol ’n stille getuie van die weerlose see-koei se lot.
Petro Heunis van “Nkonkobe Animal Care” het haar teleurstelling oor die voorval uitgespreek. “Ek het begrip daarvoor dat mense honger is maar voel dat die arme seekoei se situasie anders hanteer kon gewees het.”
Teen Mid-Karoo Express se druktyd kon daar nog nie vasge-stel word waarvandaan die opdrag gekom het om die rondloper see-koei van kant te maak nie.
Gerugte dat ’n seekoeibul en ’n kalfie ook nog in die omgewing rondbeweeg kon nie bevestig word nie.