Vervolg vanaf bl.1
Sonder die nodige beskerming, word rioolwerkers daagliks blootgestel aan ’n groot aantal hoogs aansteeklike siektes.
Dit het aanleiding gegee tot stakings in onder meer Middelburg, Tarkastad en Elliot wat vanaf Maandag, 6 Augustus vir twee weke opgeskort is, op voorwaarde dat werkers binne 14 dae van die nodige klerasie voorsien sal word.
Volgens Venske is die benarde situasie nie ’n onlangse krisis nie, maar wel een wat op ’n daaglikse basis in erns toeneem.
Tydens die Mid-Karoo Express se besigtigingstoer is gesien hoe rou riool tot teen woonhuismure loop en kinders met kaalvoetjies wat tussenin speel.
“Daar word steeds nuwe huise in Lusaka gebou, terwyl die huidige rioolafvoersisteem reeds nie die druk kan hanteer nie,” sê Venske. Dít is ooglopend: dik strome riool vloei in die Brakrivier af, op pad na die Visrivier.
Ook op Cradock is dit die stand van sake, met afvoerpype wat letterlik oorborrel in die Visrivier in.
’n Groot bron van kommer is dat groot-skaalse besproeiing gedoen word uit die Vis-river en die Visrivier-kanomarathon vind ook eersdaags hier plaas.
Op Mid-Karoo Express se vraag of daar dan nie fondse is nie, was Venske se antwoord dat daar wél genoegsame fondse is, maar dat dit nie behoorlik gekanaliseer en aangewend word nie.
Hy sê amptenare verswyg boonop die ware toedrag van sake tydens raadsvergaderings, sodat ’n vals beeld van die ware situasie voorgehou word.
“Daar is net géén beplanning of bestuur nie,” sê Venske.
“Groot dele van Tarkastad sit nou sonder drinkwater as gevolg van die stakings.
“Desperate inwoners van die ses CHDM-munisipale gebiede bel my heeldag lank. Wat my betref, is die oorname van die water- en sanitasiedienste deur CHDM ’n epiese mislukking.
“Drastiese ingryping en ’n stapsgewyse plan is ál wat dié situasie kan beredder. Ons sit met ’n reusagtige gesondheidsrisiko. Daar is letterlik géén voorraad in die munisipale store om onderhoud aan die waterinfrastruktuur mee te doen nie, bloot omdat die verskaffingsketting nie bestuur word nie.”
Mid-Karoo Express wou by Bulelane Lucando, bestuurder van tegniese dienste by CHDM, weet wat gedoen gaan word aan die rou riool wat uit alle oorde in die Visrivier instroom.
Lucando was egter nie bewus van enige rou rioolprobleme nie, buiten een punt wat lek as gevolg van twee stukkende pompe by die hoofstasie, wat glo die afgelope Maandag herstel sou word.
Maar met Mid-Karoo Express se besoek aan dié punt, was daar egter geen aksie te bespeur nie.
Intussen word nie net die Visrivier besoedel nie, maar ook alle grondwater oos van die Brakrivier, en derhalwe kan besmetting van ’n gebied soos Midros se drinkwater nie met sekerheid uitgesluit word nie.