DIE UITNODIGING:
Kom ry saam in die Elandsriviervallei, deur die veel besproke Grootrivier-poort in die Groot Winterhoek-bergreeks, anderkant uit tot by die plaas Rietfontein naby Steytlerville waar daar uitgespan word.
DIE UITDAGING:
Om dié rowwe, uitgetrapte bergpad, nogal een van Thomas Bain se ou passe, aan te pak in ’n Isuzu D-TEQ KB 300 LX 4×4. Die ander vierwielers is ’n Toyota Fortuner en ’n Toyota Hilux.
Met die inklimslag in die Isuzu dink ek sjoe … die bakkie sit nogal hard en plat. Die stuur is stram en skakelaars wil hard gedruk word om te reageer. Die stadrit is hopperig . . . dalk sou ’n sportbra ’n beter opsie gewees het.
Maar toe die bakkie se 18-duim wiele begin rol op die Elandsrivier-grondpad, verdamp die eerste indrukke soos mis voor die son. Met die viertrek-opsie geaktiveer sak hy vas en sit stewig in die draaie.
So 80km verder die vallei in, vurk die pad. Links neem die pad jou na Patensie en regs nooi die tweespoor-klippad jou Hanekamberg se kant toe, diep die onherbergsaamheid in.
Tussen ribbok en arende
Sommer gou is dit tyd om die 130kW enjin met sy wringkrag van 380/1800Nm se spiere te toets. Die viertrek-opsie word na die lae ratwisseling oorgeskakel vir die eerste rowwe klim op en oor die uitgespoelde pad.
Die ewenaarslot-opsie is aan en stadig neem die bakkie ons uit tot op ’n plato met ’n asemrowende 360 grade panoramiese uitsig.
Doer onder staan ’n trop ribbokke, daar draai ’n witkruisarend-paar in die potblou lug. Dié vallei het soveel weggesteekte natuurjuwele. En dit is wat lekker is van ’n taai 4×4, dit neem jou na dié soort uitsigte. Laat ons nou maar eerlik wees, waar alle karre kan ry het die mens ’n geneigdheid om die natuur op te neuk.
So, dankie vir byna onbegonne paaie soos hierdie wat as bewakers teen dié soort verniel dien. En dankie vir motormeganika wat dit moontlik maak om dié paaie te kan verken.
Nadat die geselskap van natuur- en avontuurliefhebbers die plato verken het is dit tyd vir die volgende groot uitdaging … nou moet daar in die kloof afgery word na Grootrivierpoort!
Met die Isuzu se afdraende-kontrole geaktiveer reguleer hy slim teen ’n gekose spoed die viertrek-wielbeheer. Diep slote in die pad laat die bakkie so nou en dan met ’n wiel in die lug. Maar die traksie is goed.
Isuzu ry waar mens gly
Die pad is so uitgetrap, ongelyk en klip-glibberig dat een van die geselskapvriende wat ’n video neem, holderste bolder 2×2 traksie verloor. Kamera steeds in die hand is dié 4×4 vs 2×2 aksie afgeneem.
Oplaas is ons daardeur, en met die terugkyk na die bergpad wat dun weg-raak op die plato dink mens . . . flippit . . . het ons daar afgery?
Uiteindelik is ons by Grootrivier en word daar kans gegee vir die Fortuner en Hilux om deur die water te ry. Die Isuzu se grondvryhoogte maak dat dit met gemak deurry.
Isuzu legendes
Anderkant uit is dit voet-in-die-hoek en die vyfspoed-outomatiese ratkas ruik uitspantyd op Rietfontein by Heinie en Rose-Mary Dorfling.
Buiten hul gasvryheid op die koel Karoo plaasopstal se stoep, wag daar toe ’n aangename verrassing!
Op hierdie plaas is daar vyf Isuzu’s. Vier bakkies én ’n lorrie.
Heinie hou van Isuzu’s. Sy 1983 bakkie se roeteteller het ná 300 000km gaan staan. Hy het dit vervang en die volgende roeteteller het ná 400 000km ook die gees gegee, so hierdie bakkie het al vermoedelik meer as 1 000 000km op sy klok en hy ry steeds!
Dan is daar ’n 1993 KB 250D, ’n 2006 KB 300D, ’n ou Isuzu wat op blokke afgetree het en die lorrie.
Die Isuzu KB 300 D TEQ 4×4 LX se nu-wighede pruik op sy vooraansig en ’n ruimer spasie vir die agterste sitarea.
Sy gemiddelde brandstofverbruik op die avontuurroete was 9.5/100km. Dié Isuzu se prys is R572 000.
Isuzu is definitief ’n plaasbakkie. Hoe taaier die pad hoe meer pas dit sy karakter.