“JY is gehok!”
Woorde wat my baie jare terugneem na my skooldae in ’n baie streng meisieskool. Nou is ek weer gehok en al my vriende is ook gehok. Maar ons is hierdie keer nie saam gehok nie en ons sit elkeen soos ’n uil op ’n kluit in ons eie hok.
Die eerste drie dae het gevoel soos ’n lang na-week sonder enige aktiwiteite, tot Maandag aangebreek het met die realiteit dat daar nog sewentien lang, stil en alleen dae voorlê. Dis toe wat ek ’n lys van moets en moenies opgestel het veral vir mense wat in dié tyd alleen by die huis is. Belangrikste van alles: moet nie jouself bejammer nie. Bly besig en as jy klaar jou kaste reggepak het, knope aangewerk en ritse vervang het, leer hekel.
YouTube gaan jou in ’n japtrap leer en dink net hoe verbaas jou vriende ná 16 April gaan wees oor al die mooi goed wat jy gemaak het.
In baie van ons huise lê daar hope tydskrifte wat net vlugtig deurgeblaai en neergesit is ‘vir eendag’. Elke dag van hierdie inperking is nou ‘eendag’. Lees die tydskrifte, doen die blokkiesraaisels, maar as jy alleen bly, moet asseblief net nie al die resepte maak nie. Onthou, jy sal dit self moet opeet.
Lees ook ’n lekker boek of twee, of drie of vier. En as jy leergierig is, praat met Meneer Google daardie slim man wat vir jou ’n antwoord op alles kan gee. Dis nou ook ’n goeie tyd om die radio en televisie af te skakel en na opnames van die ou sangers soos Elvis Pressley, Pat Boone, Cliff Richard, Everly Brothers en Bill Haley te luister. Daar is min hedendaagse sangers wat met hulle kan kers vashou en dit sal sommer ’n hele paar jaar van jou boekie-ouderdom ook in jou gedagtes laat wegsmelt. Hierdie is ook ’n goeie tyd om weer ou vriende met wie jy kontak verloor het, te skakel en heerlik oor lekker dinge te gesels. Die inperking, hoe duur alles geword het en jou kinders is verbode onderwerpe – gesels liewer oor “onthou jy vir” en “onthou jy toe” en “onthou jy hoe lekker het ons gelag . . .”
As niks van hierdie goed jou sal opkikker nie, dink dan aan jou bankbalans. Drie weke nie in ’n winkel nie, nie by ’n haarkapper nie, nooit met jou kar gery nie. Dit moet mos iets beteken.
