SONKRAG-AANGEDREWE voertuie van regoor die wêreld sê mekaar weer van 22 – 29 September die stryd aan tydens die Sasol Solar Challenge.
Vanjaar sal 15 internasionale spanne meeding om die trofee, wat in 2016 deur die Nederlandse span Nuon, verower is.
Die uitdaging is om so ver as moontlik te reis op ’n vasgestelde roete, slegs met behulp van die energie wat uit elke sonstraal getap kan word. G’n wonder dat die sonnige Karoovlaktes deel uitmaak van dié opwindende geleentheid nie.
Op 25 – 26 September kan belangstellendes in die omgewing van Middelburg en Graaff-Reinet deelhê aan hierdie titaniese stryd wat oor ’n afstand van 2 500km beslis word.
Middelburg is ’n beheerpunt – reeds om 09:00 op 25 September kan toeskouers die eerste voertuie te wagte wees. Hulle sal die dorp vanaf Gariepdam nader en via Meintjiesstraat en Victoriastraat ry na die sportveld van die Hoërskool Middelburg.
Die voertuie sal omstreeks 15:00 vertrek na die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, waar hulle vanaf 16:30 verwag kan word. Die volgende oggend is vertrektyd 07:30 vanaf die kerk.
Die Sasol Solar Challenge verskuif telkens die grense van tegnologie en innovering. Vanjaar spog die spanne onder andere met handgeweefde sonpanele, 3D-gedrukte onderdele en hoogs gesofistikeerde weermoniteringstelsels.
“Hierdie is ’n toets van volharding, uithouvermoë, logistieke vernuf en innovering,” sê Winston Jordaan, stigter en direkteur van die Sasol Solar Challenge.
Die meeste spanne is afkomstig van universiteite, maar ook enkele hoërskole neem deel. Hiermee poog Sasol om belangstelling in wetenskap, tegnologie, wiskunde en ingenieurswese by leerlinge aan te wakker en hulle die geleentheid te bied om hierdie vakke in ’n uitdagende, dog prettige omgewing te ontdek. Daarom borg Sasol ook vanjaar twee spanne wat nog nooit vantevore deelgeneem het nie.
Vanjaar is die eindstreep vir die eerste keer in Stellenbosch en die prysuitdeling sal op 30 September in Kaapstad plaasvind.
Mid-Karoo Express sal later meer inligting verskaf om lesers vooraf in te lig oor watter paaie deur die Sasol Solar Challenge beïnvloed sal word.