“Met ’n tyd van 6h01m is ek steeds geseënd en nederig om die wedloop te kon voltooi. Two Oceans is die mooiste marathon in die wêreld, maar ook een van die hardste ‘ultras’ in die wêreld.”
Só gesels Saul Miles van Middelburg met sy terugkeer ná sy voltooiing van die Two Oceans-marathon in die Kaap.
Volgens Miles is die Two Oceans vir hom nog altyd ’n wonderlike ervaring, veral met al die ondersteuning wat die atlete langs die pad van die begin tot einde kry.
Vanjaar was dit sy vyfde agtereenvolgende Two Oceans-marathon en ook die ergste een, volgens hom. Met ’n besering wat gedreig het van die 26km-merk af, moes hy besluit watter keuse hy gaan maak.
“Dit was tussen of ek vat alles rustig, of ek beseer myself en dan kan ek dalk ’n erger Comrades beleef,” het hy gesê.
Miles het egter besluit om liewer alles rustig te vat, sterk klaar te maak – sonder beserings – en reg te wees vir die Comrades wat om die draai is.
As alles goed verloop en “die genade is nog daar” wil hy graag tydens die Bruin-tjieshoogte-marathon op 21 April ’n 50km-wedren hardloop as ’n oefenwedloop voor hy aan die Comrades-marathon op 10 Junie gaan deelneem.