SAUL Miles van Middelburg het op Sondag, 10 Junie sy vierde Comrades Marathon voltooi.
Vir Saul was die marathon self ’n fantastiese ervaring, veral om te sien hoe baie mense tussen die ouderdomme van 50 tot 70 jaar daaraan deelgeneem het. Nog iets wat hom veral opgeval het, het hy gesê, is hoe-veel atlete met gebreke deelgeneem het.
In die laaste pylvlak na die eindpunt, het Saul, tot almal wat hom ken se opgewonden-heid, op die televisie verskyn waar hy besig was om die skare aan te moedig om vir twee atlete van Durban High School Old Boys Club hande te klap! Dis mos soos Middelburgers ook vir Saul ken en geeneen kon die trane keer toe hulle vir Saul so sien nie. Na ongeveer 11 en ’n kwartuur op hul voete en 90km agter die rug, het Saul steeds die energie gehad om in die ronde te draai met arms in die lug ter inspirasie vir die Old Boys.
Volgens Saul (25182) het hy die Old Boys-atlete, Grant Adams (5897) en Andrew Murray (14227), ’n paar maal vanaf Pietermaritzburg na Durban raak gehardloop. Adams (in ’n rolstoel) ly vir die afgelope 11 jaar aan veelvuldige sklerose. Ongeveer ’n jaar gelede het Grant en ’n jarelange vriend, Andrew, besluit om saam te span om Grant te help om ook sy droom te bereik. Daarvolgens sou Andrew vir Grant in ’n driewiel- fiets stoot tydens die Comrades sodat Grant ook sy medalje kan verower!
Vir Saul was dit ’n groot inspirasie toe hy ongeveer 3km voor die einde saam met Grant en Andrew gedraf het tot in die stadion. Met wuiwende arms het hy nie die aandag op homself probeer vestig nie, maar wel op die twee maats vir wie hierdie Comrades ’n groot deurbraak was.
Nog ’n groot oomblik vir Saul was toe hy ná afloop van die marathon die atleet Xolani Luvuno ontmoet het. Xolani het met ’n geamputeerde been en op krukke die Comrades voltooi. Xolani en sy hulp, Hein Venter, het reeds om 00:30 Sondagoggend weggespring (vyf ure voor al die ander atlete) sodat hulle die wedloop ook betyds voor 17:00 kon voltooi.
Saul het gesê hy is tevrede met sy wedloop en herstel tans goed.
Binnekort sal hy weer begin oefen om vir 2019 se Comrades te kwalifiseer . . .