DIE ouers van leerders by die Schoombee Primêre Skool buite Hofmeyr is ongelukkig omdat ’n groot aantal van hul kinders nie meer busvervoer na die skool en terug huis toe het nie.
Baie van hierdie ouers het ook geen ander vervoermiddel om die kinders self te neem nie. Volgens die skool veroorsaak dit dat hierdie leerders se skoolwerk agter raak.
“Onderwysers word dan blameer vir swak onderrig en prestasies en dit omdat die kinders bloot nie daagliks by die skool kan uitkom nie. Die kinders haal agterstallige werk ook baie moeilik in as gevolg van ’n baie druk program,” het Elna Jordaan, skoolhoof van Schoombee Primêr, verduidelik.
Daar is wel twee busse wat daagliks dieselfde roete ry met verskillende oplaaipunte, maar dié roetes oorkruis gereeld. Die busse vervoer blykbaar ook net ’n klein aantal van die leerders.
Dit blyk dat kommunikasie tussen die departement van onderwys en departement van vervoer ontbreek wat die situasie betref.
Volgens die skool was daar nog niemand om die skool, oplaaipunte en afstande te besigtig en te kontroleer nie.
“Nie die onderskeie departemente of die buseienaars ken die area rondom die skool nie, maar hul ken tenders en kontrakte toe. Buseienaars moet tender vir vervoer en teken dan kontrakte. Op die kontrakte is soms plase wat nie in die omgewing bestaan nie, plase waar daar geen kinders woon nie en die afstande is nie korrek bereken nie,” het Jordaan gesê.
Dit veroorsaak dat kinders wat slegs 6 km of 8 km van die skool af bly, nie opgetel word nie.
Volgens Jordaan is tenders is nou weer vir drie jaar vasgeteken vanaf 2017 tot 2019 wat vervoer elke jaar bemoeilik omdat die skool se getalle drasties toeneem.
“Die skool het voorgestelde roetes wat vir hulle werk aan die departement van vervoer, departement van onderwys en die buseienaarsfirmas oorhandig. Voorgestelde roetes is nie deur departement van vervoer goedgekeur nie.”
Weens ’n gebrek aan kommunikasie is Schoombee Primêre Skool ook nie seker of die inligting ooit die regte persone bereik nie.
Volgens Jordaan het die skool se voorgestelde roetes vir ’n tydperk lank baie goed gewerk, totdat die eienaars besef het dat hulle nie gaan betaal word deur die departemente nie.
Ná verskeie vervoer-vergaderings met die departement van onderwys en die departement van vervoer by Schoombee Primêre Skool, asook in Cradock en Queenstown, is daar, volgens Jordaan, net leë beloftes aan die mense gemaak.
Verskeie mense het al besoek afgelê by die skool, maar nog niks het daarvan gekom nie.
“Mnr. Stemela van die departement van vervoer was verskeie kere by die skool, waarvan die laaste besoek op 6 Junie 2017 was. Sy verskoning was dat daar nie geld beskikbaar is vir vervoer nie. Wanneer Schoombee Primêr enigsins navraag doen rondom vervoerprobleme word hulle terugverwys na Mnr. Stemela,” het Jordaan gesê.
Edmund van Vuuren, ’n lid van die DA in Port Elizabeth, het ook op 11 September 2017 die skool besoek. Die saak is deurgegee na Bhisho en dit is die laaste wat die skool daarvan gehoor het.
Met die roetes wat die buseienaars tans ry, sit 89 leerders van Schoombee Primêr sonder enige vervoer.
Schoombee is bykans 50 km vanaf Hofmeyr geleë en daar is geen ander skole in die omgewing wat tans die kinders kan akkommodeer nie. Daar is selfs kinders van Middelburg wat oorgeplaas word na Schoombee omdat Middelburg se skole te vol is.
“Vir die personeel by Schoombee voel dit asof die probleem onoplosbaar is want niemand sien die erns van die saak in nie. Die probleem kan egter so vinnig uitgesorteer word as voorgestelde roetes net gebruik word, en twee busse nie betaal word om op dieselfde roete te ry nie,” het Jordaan gesê.
“Die begroting vir vervoer word verkeerd bestee en die probleem is sekerlik nie net tot Schoombee beperk nie; die hele Hofmeyr-distrik se kinders is op die stadium ook sonder vervoer. Alle skole wat van die departement van vervoer afhanklik is om kinders by die skole te kry, kla oor dieselfde probleem.
Mali Mtima, provinsiale woordvoerder vir die department van onderwys, het gesê, “Dit is ’n saak wat met die departement van vervoer bespreek moet word. Ons verskaf die rou data aan hulle om hulle in te lig van diegene wat ons glo deur hulle vervoer moet word. Hulle neem die saak van daar af.”
- Verskeie pogings om kommentaar van die departement van vervoer te kry, was onsuksesvol.