IN reaksie op ’n versoek van Hofmeyr Hugs of Hope aan al die laerskole in die omgewing om tekeninge wat teddiebere uitbeeld in te skryf, het Schoombee Primêre Skool in volle sterkte meegeding.
Pakke inskrywings is ontvang van die skool, en pragtige teddiebeerskilderye kon beoordeel word.
Mariaan Schoeman en Linda Opperman het die beoordeling waargeneem, en drie teddiebere van Schoombee Primêre Skool was onder die vier wen-inskrywings wat reeds in produksie is by Symara Sublimation.
Hierdie prente sal gebruik word om 100% suiwer katoen inkopiesakke te versier, wat deur Hofmeyr Hugs of Hope bemark sal word, ten einde die misbruik van plastieksakke hok te slaan.
Die sakke sal ook deur Hugs of Hope self gemaak word om ’n werkskeppingsprojek van stapel te stuur met behulp van Ikhala Trust wat ook betrokke geraak het deur finansiering te verskaf.
Die teddiebeersakke sal eersdaags die lig sien, en bestellings sal dan geplaas kan word.