LENTE is die afgelope naweek ingelui deur een van die mees grusame ongelukke nóg op die R63 tussen Alice en Fort Beaufort.
Die ongeluk het ongeveer ses kilometer buite Alice gebeur. Die pad tussen Alice is berug vir die magdom ongelukke wat gereeld daar gebeur en talle motoriste het al hulle ongelukkigheid met die oppervlak van dié pad teenoor veral amptenare van SANRAL uitgespreek.
’n 16-sitplek minibus wat Sondag van King William’s Town na Kaapstad op pad was, het omstreeks 12:15 deur ’n draadheining gebars en op sy sy in ’n oop veld langs die pad beland.
Passasiers is ten tye van die ongeluk uit die voertuig se romp geslinger.
Die betrokke voertuig was deel van ’n konvooi wat vanaf ’n begrafnis in die landelike dele van King William’s Town terug na Kaapstad op pad was.
Met Mid-Karoo Express se besoek aan die toneel die afgelope Sondag het passasiers, wat in ander kombi’s in die konvooi op pad na Kaapstad was, verslae naby die ongelukstoneel rondgestaan. Een het vertel hoe die bestuurder van die minibus wat in die ongeluk betrokke was by hom gepleit het om in die noodlottige bussie te klim.
Polisie en verkeersbeamptes het op die toneel bespiegel dat die bestuurder op ’n hobbelrige deel van die pad beheer oor die minibus verloor het en dat die sleepwaentjie hom in die proses ook van balans gegooi het.
Paramedici was in alle erns besig om beseerdes te stabiliseer en in ambulanse te laai. Lyke van oorledenes het oor ’n wye area toegegooi gelê.
In die minibus-wrak het selfone onophoudelik gelui. ’n Stowwerige pruik was stil getuie van die geweld waarmee die passasiers uit die kombi se wrak geslinger is.
’n Polisiebeampte het aan Mid-Karoo Express ’n verpligte passasierslys getoon waarop slegs die passasiers se name aangeteken is.
Anders as wat die norm is, is geen selfoonnommers of adresse van die passasiers op die lys aangebring nie. “Sulke laksheid bemoeilik ons taak om naasbestaandes in te lig,” het hy gesê.
Die ongeluk het die lewe van ses manlike en een vroulike passasier geëis. Nege is met ernstige beserings in naburige hospitale opgeneem.
Teen druktyd kon geeneen van die oorledenes se name vrygestel word omdat hul naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie.