Sewejarige Jonker lees dat die vonke spat

JONKER Nel van Somerset-Oos is ’n 7-jarige mannetjie wat koerante en boeke lees dat die vonke spat.


JONKER Nel van Somerset-Oos is ’n 7-jarige mannetjie wat koerante en boeke lees dat die vonke spat.

As sy ouers inkopies doen, maak hy hom voor die tydskrifrakke tuis waar hy na hartelus al die nuus op die buiteblaaie kafdraf.

Volgens JJ se ma, Yolandé, het hulle sedert sy geboorte op 10 Desember 2010 baie aandag aan hom gegee – ’n laatlammetjie, want Pa Jonker senior, was al 68.

JJ het floreer op al die aandag en op een jaar en drie maande kon sy hom al die hele huis vol stuur om dinge vir haar te gaan haal en elke keer is hy terug met die regte item.

Op een jaar en agt maande het sy vir hom ’n lêer met die letters van die alfabet wat sy uit tydskrifte geknip het, gemaak.

Volgens Yolandé het hy op tweejarige ouderdom sy eerste koerantberig gelees. Sy het toe begin om vir hom boekies by Lesers -kring te koop.

Ses maande later toe lees hy die hele koerant van voor tot agter. Hier het sy besef dat JJ besonders is. Alhoewel sy aangespoor is om JJ in ’n crèche te sit, het Yolandé geweier en hom eerder by die huis ge-leer.

JJ is op vyfjarige ouderdom skool toe en is tans in gr. 2 in die Primêre Skool William Oates in Somerset-Oos. Volgens sy klasonderwysers vorder hy bogemiddeld.

Omdat hy so slim is, verbied die onderwysers hom soms om vrae te antwoord sodat ander kinders ook beurte kan kry.

“Dit laat hom sleg voel en ongelukkig hou JJ al minder van skool. Die werk is te maklik en hy raak gou verveeld,” vertel sy.

“Maar, wiskunde is sy voorkeurvak,” en JJ beaam dit.

Jonker spog graag met sy rapporte en sertifikate wat hy deur die paar jaartjies van sy lewe al verwerf het. Die 7’s sit soos krale ingeryg by al sy vakke.

“Ek is baie trots as my naam geroep word,” het JJ van die prysuitdelings gesê.

Toe Mid-Karoo Express hom vra wat hy eendag wil word, dink hy nie eens nie, maar skiet sy antwoord blitsvinnig uit: “’n Dokter!”

Volgens Jackie Wansink, een van sy onderwyseresse, is hy ’n baie intelligente seun wat 100% vir al sy assesserings kry. Sy vertel ook dat JJ die een is wat die Mid-Karoo Express huis toe gedra het en dit is hoe sy ouers uitgevind het van die gratis koerant in die dorp.

Sy onderwyseres vir hierdie jaar, Sarah Petrus, voeg by dat hy middae ná skool nie wil huis toe gaan voordat sy nie vir hom boeke gegee het om by die huis te gaan lees nie. Tans is sy raadop, want die boeke wat sy gehad het, het hy nou al alles gelees.

Die Nel-familie het nie elektrisiteit nie en in die aande sit JJ tot watter tyd by kers-lig en lees.

Hy behoort aan die biblioteek en verkies deesdae om Engelse boeke te lees. Hy kan nou ook so ’n bietjie isiXhosa praat wat sy derde taal is en op skool aangeleer word en nou leer hy dit sommer ook vir sy ma.

“Toe, sê vir die mevrou wat leer ons nou by die huis,” por Yolandé. Gou kom die antwoord – Psalm 23, maar darem in Afrikaans.

Yolandé voel sterk daaroor dat kinders gedissiplineer moet word en die regte waardes by die ouerhuis geleer moet word.

Sy stap steeds saam met JJ skool toe en gaan haal hom ook ná skool en dan bly hy by die huis en hou hom daar besig met sy boeke, luister na stories oor die radio of speel op sy ma se selfoon.

“Tye het baie verander; kinders word te veel toegelaat en loop net vir kwaadgeld rond.”

Alhoewel die Nels dit nie breed het nie, probeer hulle steeds hul bes om vir hul kinders te gee wat hul benodig.

JJ het ’n ouer broer, Algernon, wat klaar is met skool. Hulle is breëbors trots op hul jongste en hul grootste wens is dat hulle ge-spaar sal bly en hom sal kan ondersteun tot hy eendag op sy eie voete kan staan.

You need to be Logged In to leave a comment.