EEN van drie sitruspakhuise op Fort Beaufort wat werk aan honderde inwoners verskaf, is die afgelope Maandag deur ’n brand in puin gelê.
Die Riverside-pakhuis is een van dié dorp se min hartkloppe wat tydens die sitrusseisoen werk aan ’n magdom inwoners verskaf. ’n Pikswart rookwolk het van kort ná 08:00 oor die Newtown-woonbuurt, aangrensend aan die pakhuis, getrek. Tydens die herfs- en somermaande word duisende tonne nartjies, lemoene en suurlemoene in die pakhuis verwerk, verpak en na die buiteland uitgevoer.
Werkers het Maandag ’n protesaksie oor lone van stapel gestuur en kort ná die aanvang daarvan het ’n brand by die pakhuis uitgebreek. Miljoene rande se masjinerie en ander toerusting is totaal en al in die brand vernietig. Die massiewe metaalstruktuur het binne enkele ure onder die aanslag van die brand inmekaar getuimel.
Met Mid-Karoo Express se besoek aan die ramptoneel die afgelope Maandag het werkers in groepies verslae rondgestaan. Vlamme het die hoogte ingeskiet en binne die gebou was plofge-luide duidelik hoorbaar. Van die vroulike werkers het soos klein kinders gehuil. “Hoe gaan ons nou vir ons kinders sorg en waarvan gaan ons leef?” het ’n besorgde moeder gevra.
Daar was geen teken van ’n brandweerwa nie en die vuur het alles binne en buite die gebou verswelg. Slegs ’n paar vurkhysers wat betyds vanuit die perseel verwyder is, het die vernietig-ende brand vrygespring.
Met die nartjieseisoen wat nou einde se kant toe staan en die lemoenseisoen wat voor die deur staan is die sitrusbedryf op dié dorp nou in ’n krisis gedompel.