Sitrusseisoen ’n reddingsboei vir vele families

DWARSDEUR die winterseisoen word hulle op die R63 en R67 in die Katriviervallei by Fort Beaufort gesien.


DWARSDEUR die winterseisoen word hulle op die R63 en R67 in die Katriviervallei by Fort Beaufort gesien.

Dis die lemoen- en nartjieverkopers wat hulle oranjekleurige lemoensakkies omhoog hou en op ’n drafstap langs motors stelling inneem in die hoop om ’n sakkie van die heilsame vrugte aan motoriste te verkwansel.

Min van die magdom mense in hulle voertuie wat verby hierdie lemoensmouse ry besef deur watter ontberings hulle gaan om hulle lemoene van die hand te sit. Van die verkopers gaan soms so ver as om in die hart van die winter vir hulleself ’n tent langs die pad op te slaan en in snerpende koue 24 uur per dag hulle sitrusvrugte te koop aan te bied.

Daarvan getuig die magdom smeulende vuurtjies wat snags by die verkooppunte waargeneem kan word.

Mid-Karoo Express het onlangs by die verkopers gaan kers opsteek om vas te stel hoe hulle hul besigheid bedryf.

Vanjaar is die kompetisie ook strawwer nadat een van die drie lemoenpakhuise in die omgewing vroeër vanjaar deur ’n verwoestende brand in puin gelê is en ’n magdom werkers by dié pakhuis gevolglik afgelê is.

Given Hewitt (35) en sy vriendin, Vinece Fourie (28), het vertel dat hulle altwee as tydelike werkers by die Riverside-pakhuis werksaam was. Die brand het hulle duur te staan gekom want hulle is nou van ’n gereelde inkomste ontneem.

Luidens Hewitt het hy drie kinders vir wie hy moet sorg, waarvan een ’n dogter is wat tans in gr. 10 is en vir wie hy gereeld geld Port Elizabeth toe moet stuur.

“Ek weet nie hoe ons sou oorleef het as dit nie vir hierdie lemoene was nie,” het Hewitt gesê, terwyl hy oor die kindjie in sy arms se koppie streel.

Luidens hom koop hulle die lemoene teen R450 per krat by die lemoenstoor. Dan moet hulle weer R50 betaal vir die lemoene se vervoer na die verkooppunt.

Die sakkies koop hulle teen R120 per 100 en uit elke krat kan hulle om-en-by 50 sakkies volprop wat hulle teen R20 per sakkie langs die pad verkoop.

“Op ’n goeie dag verdien ek so R600. Dit hou darem die pot aan die kook,” het Hewitt vertel.

Die 28-jarige Vinece het ook ’n negejarige dogtertjie en is in ’n verhouding met Hewitt.

“Toe ons altwee nog gewerk het, het ons saam gebly, maar ek het nou maar teruggetrek na my ma toe. Ons het reeds begin meubels aankoop en beplan om te trou, maar ons het dit nou weens omstandighede uitgestel. Ons weet nie of die lemoenpakhuis herbou gaan word en of ons in die nabye toekoms weer vaste werk sal kry nie. Vir eers vestig ons hoop op die lemoene wat ons elke dag hier langs die pad verkoop.”

Toe ’n voertuig met Mid-Karoo Express se besoek stilhou, het al wat ’n verkoper is laat spaander met sy sak op sy skouers en spoedig om een enkele motor gekoek. Verder af in die pad was ’n moeder met ’n baba op haar rug wat gebukkend ’n sakkie lemoene in ’n ander motor se kattebak laai, terwyl nóg ’n smous flink sy sakkies volprop vanaf ’n hopie lemoene wat deur ’n bakkie langs hom afgelaai is.

Die kompetisie was beslis straf.

You need to be Logged In to leave a comment.