‘Skoene koop is ons brein se manier om na ons gesondheid om te sien’

WANNEER my man soms in die verbygaan ’n kykie in my skoenekas kry, skud hy sy kop en sê: “You could give Imelda Marcos a run for her money!”.


WANNEER my man soms in die verbygaan ’n kykie in my skoenekas kry, skud hy sy kop en sê: “You could give Imelda Marcos a run for her money!”

Dié stelling is natuurlik van alle waarheid ontbloot, want almal weet tog dat Imelda Marcos in haar glorietyd as presidentsvrou van die Fillipyne, enigiets tussen 1 000 en 2 000 pare skoene gehad het! Sommige webwerwe meen dat dit soveel as 3 000 kon gewees het, maar ek vermoed dis effe oordrewe. Toe sy en haar man in 1986 uit die Fillipyne moes vlug ná ’n poli-tieke opstand en daar oor haar weelderige leefstyl en 3 000 paar skoene geskinder is, het sy glo gesê: “I did not have three thousand pairs of shoes, I had one thousand and sixty.” Hieruit kan ons aflei dat sy beslis geweet het wat in haar skoenkas aangaan – ’n vrou so na my hart. As ’n mens haar nou kan glo, bygesê, want watter vrou het nog nie die hoeveelheid skoene in haar kas probeer betwis nie? Veral wanneer sy, dikwels aan haarself, probeer regverdig hoe-kom sy al weer nuwe skoene nodig het.

Hoekom is die meeste vrouens so mal oor skoene? Want daar is net so ’n heerlike gevoel wat oor ’n mens spoel met die koop van ’n nuwe paar skoene. Sielkundiges meen dat inkopies doen, veral die aankoop van skoene, die goedvoelhormoon dopamien afskei. En dít is hoekom ons so lekker voel wanneer ons nuwe skoene koop.

Hierdie slim mense reken ook dat daar in ons breine ’n versamelkol is. Wanneer iets ons ge-lukkig laat voel, sê ons brein glo vir ons om aan te hou daarmee en daarom kan party vrouens nie ophou skoene koop nie – hulle brein sê hulle aan om dit te doen. Om dus aan te hou skoene koop is maar net ons brein se manier om na ons gesondheid om te sien.

Mooi skoene, veral dié met hoë hakke, verrig natuurlik wondere vir ’n vrou se selfvertroue. Dis asof hulle met meer grasie beweeg, meer in beheer is van hulself en hul omgewing en die wêreld in die oë kan kyk. Party van ons moet egter geleidelik ons selfvertroue op ander maniere begin kry – juis as gevolg van al die hoë hakke in ons verlede, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. Daar is egter steeds duisende pare mooi skoene daar buite sonder hoë hakke, so wees nie bevrees nie.

Om skoene te koop, is heeltemal anders as ander inkopies. ’n Mens kan nog wegkom deur in jou kas rond te soek vir ’n hemp om by jou nuwe broek aan te trek, maar jy kan definitief nie sommer enige paar skoene daarby dra nie. Die skoene moet rég wees vir die uitrusting. Die punt is dat ons dus dikwels skoene nodig het om by ’n spesifieke uitrusting te pas.

Meneer, het jy nog nooit jou vrou hoor sug nie? “Ek het nou al ’n rok vir die troue, maar ek sal nuwe skoene moet kry!” Gló haar, sy praat die waarheid, sy wéét daar is nie skoene in haar kas wat by die rok pas nie. En as die skoene nie reg is nie, kan sy maar net sowel by die huis bly. Een van my neefs het eendag vir my gesê as ’n vrou nie die regte skoene aanhet nie, help dit nie hoé mooi sy of haar uitrusting is nie, sy sal nooit goed lyk nie. Daar het jy dit – uit die perd se bek.

Marilyn Monroe se mening was: “Give a girl the right shoes and she can conquer the world.” Laat waai meisies, die wêreld en die skoenwinkels wag.”

You need to be Logged In to leave a comment.