Skok oor afsterwe van ‘ware wolram’

DIE voormalige skoolhoof van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock, Hennie Olivier (69), is verlede Woensdagaand oorlede.


DIE voormalige skoolhoof van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock, Hennie Olivier (69), is verlede Woensdagaand oorlede.

Sy begrafnis is gister in Oudtshoorn, waar hy en sy vrou Andeline ná sy aftrede gewoon het, gehou.

Hy was van geboorte af ’n Wolram – in murg en been, het Deon Gerber, bemarker by dié skool, vertel.

“Geen ander persoon kan sê dat hy op Marlow gebore is en ook afgetree het nie.”

Hy is op 4 Maart 1949 op die plaas Driefontein, naby die skool, gebore. Sy pa was toe die skoolraadsekretaris op Marlow.

“Op 7-jarige ouderdom is hy vir die eerste keer skool toe in die plaasskool op Marlow, vandag bekend die die Kleinskooltjie – Marlow se gastehuis.

“Ná st. 4 het die Oliviers na Boland Landbouskool verhuis en in st. 7 het hulle na Oudtshoorn getrek waar Meneer matriek geslaag het,” aldus Gerber.

Daarna het Olivier onderwys aan die Oudtshoorn Onderwyskollege studeer en later het hy sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Otto du Plessis in Port Elizabeth begin. Hy het later ook in Colesberg en Aberdeen skoolgehou.

In 1972 het hy met Andeline getrou en hulle het twee kinders uit die huwelik gehad – Ammie en Derik, wat tans die sportorganiseerder by Marlow is.

“En toe lei sy lewenspad hom terug na Marlow, eers as adjunkhoof en toe as skoolhoof vanaf 1994.

“Vir amper 30 jaar – waaronder 20 jaar as skoolhoof – het hy sy alles vir Marlow gegee. Meneer Olivier se voetspore lê diep op Marlow en sy vingerafdrukke is oral sigbaar.

“Duisende oud-skoliere, ouers en onderwysers sal hom altyd onthou.”

Volgens ’n inskrywing op 15 Mei op Olivier se Facebook-blad, was hy vanaf 9 Maart tot 4 Mei in die St. George-hospitaal in Port Elizabeth met septesimia en dubbele longontsteking.

“Dit was ’n traumatiese tydperk vir my familie en myself en ek het werklik op die randjie van die dood gedraai. Tog het dit stadigaan beter gegaan en ná ses weke in die ICU is ek oorgeplaas na die algemene saal vir ’n verdere twee weke. Toe die fi-sioterapeute met my begin werk het, was ek so swak soos ’n baba ná ek agt weke net op my rug gelê het,” het hy geskryf.

Olivier was voorwaar ’n geliefde mens en tydens sy tyd in die hospitaal was hy oorval met besoeke en gebede van familie en vriende.

“Baie van die mense ken ek nie eers nie, maar aan elkeen wat so vol vertroue en opreg gebid het vir my herstel, sê ek dankie.”

Sy dood was ’n groot skok en hulde-blyke het kort ná die tyding van sy afsterwe op sosiale media inge-stroom.

Sanneke van der Merwe het gesê “Wat ’n lewenspad het hy nie met Marlow gestap nie . . .alle sterkte aan sy geliefdes.”

André van Heerden het geskryf “Hennie was hart en siel ’n Marlow-man. Ons het lekker saam gewerk. Hy was altyd positief en diep spore lê daar van hom.”

Ben Kleynhans het gesê “Hennie sal altyd onthou word vir die goeie mens wat hy was. Wonderlike skoolhoof gewees vir die seuns.”

Sanria Jordaan het gesê “Dink aan julle as gesin. Hy was ’n wonderlike mens en so lief vir elke kind in Marlow. Hy sal altyd in ons gedagtes voortleef. Liefde vir jul almal.”

Volgens Jannie Myburgh was hy “’n ikoon in baie van ons lewens wat onder sy hand deurgeloop het.”

You need to be Logged In to leave a comment.