Skool spog met vier hoofde op sy personeel

AS dit by onderwyserskundigheid kom, dan het een skool op Fort Beaufort geen tekort daaraan nie.


AS dit by onderwyserskundigheid kom, dan het een skool op Fort Beaufort geen tekort daaraan nie.

By die Newton Junior Sekondêre Skool op Fort Beaufort meld niks minder nie as vier skoolhoofde daag-liks vir diens aan. Die huidige skoolhoof, Craig Fester, is in September verlede jaar as prinsipaal by dié skool aangestel ná die aftrede van Neville Mc Donald, wat intussen oorlede is.

Drie ander afgetrede skoolhoofde het hulle weens die landwye tekort aan Afrikaanse leerkragte onlangs by die skool se personeel aangesluit.

Abe Lentoor, wat vir 39 jaar in die tuig was, het op 60-jarige ouderdom uit die onderwys getree. Hiervan was hy vir 24 jaar lank prinsipaal van die Primêre Skool Hillcrest op Alice.

Lentoor het onlangs by Newton se personeel aangesluit ná ’n rustydperk van drie jaar.

Anthony Venter, wat vroeë aftrede op 55 geneem het, is reeds sedert verlede jaar deel van Newton. Hy is in Mei vanjaar weer permanent by die skool aangestel. Venter was vir agt jaar verbonde aan St. Joseph’s (R.K.) Primêre Skool voor hy in 1991 as skoolhoof by die Primêre Skool Hertzog in die Katriviervallei aangestel is. Hy was vir 23 jaar aan die stuur van sake by dié skool. Hy het ook vir ’n jaar lank diens by die Laer Blinkwater Primêre Skool diens gedoen.

Bryan Adonis het sommer kort ná sy aftrede op 60-jarige ouderdom vanjaar ook by Newton se personeel aan-gesluit. Van sy 41 jaar onderwys-ondervinding was hy vir 40 jaar lank prinsipaal. Vir tien jaar was hy aan die stuur van sake by Newton voordat hy later vir 30 jaar lank prinsipaal van Laer Blinkwater geword het. Die drietal het gesamentlik bykans 90 jaar se skoolbestuursondervinding.

“Ek voel opreg trots om hierdie drie oupas op ons personeel te hê,” het Fester aan Mid-Karoo Express gesê. “Hul ondervinding en toegewydheid is vir ons skool en gemeenskap van onskatbare waarde. Ek skroom nie ’n enkele oomblik om op een van hulle se nommer te druk as dinge warm raak nie.”

En wat maak dat drie afgetredes hul ruskans opoffer en weer voor die klaskamer gaan staan? “Ons kan nie agteroorsit en toekyk hoe ons taal en gemeenskap ten gronde gaan omdat daar so ’n groot tekort aan Afrikaanse onderwysers is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.