SKRYWER Sam Gunn het Gill-Kollege in Somerset-Oos verlede maand besoek met ’n prag-eksemplaar van die boek The Hirsch Shield wat hy geskryf het.
In hierdie waardevolle boek word die volledige geskiedenis van die Hirsch-atletiekbyeenkoms, wat steeds plaasvind, uitgebeeld en Gill se bydrae word ook erken.
Die skrywer is ’n voormalige skoolhoof van die prestige Selborne Kollege in Oos-Londen. Hy was op sy dag ook ’n geskiedenis- en liggaamlike opvoeding onderwyser – vandaar sy belangstelling in geskiedenis en sport.
Tydens navorsing vir sy boek het Gunn ontdek dat Gill-Kollege ook in die beginjare aan hierdie atletiekbyeenkomste deelgeneem het en die Hirsch-skild drie maal verower het – die eerste keer in 1921.
Om meer oor Gill se deelname en bydrae in die beginjare van die skild se bestaan uit te vind, het hy in Junie verlede jaar met die skool kontak gemaak en dít het gelei tot sy en sy vrou se besoek aan Somerset-Oos in Oktober verlede jaar. Dit was sy eerste besoek aan hierdie geweste. Die doel van sy besoek was om foto’s en berigte van die atletiekbyeenkomste na te speur. Hy het die skool se museum besoek en het waardevolle inligting ingewin danksy Clifford Harris se deeg-like aantekeninge van geleenthede by die skool, sowel as in die media.
Gunn was meer as aangenaam verras met die “juweel geleë in Somerset-Oos”.
Die Hirsch-atletiekskild is vir die eerste maal in 1917 tydens ’n atletiekbyeenkoms vir seunskole toegeken. Die indrukwekkende skild is deur die prominente Oos-Kaapse sport-en besigheidsman, John G Hirsch, geskenk.
In sy voorwoord word die prominente rol wat Harris gespeel het, deur Gunn uitgelig.
In 1926 was die Hirsch Skild-byeenkoms ’n ge-rekende kompetisie in die Oos-Kaap. Op 25 September van dieselfde jaar het Gill-Kollege die kampioenskapsbyeenkoms in Somerset-Oos aangebied.
Verlede jaar was inderdaad ’n geskiedkundige jaar vir Gill. Nie alleen het dit die verbintenis en blootstelling aan Gunn tot gevolg gehad nie, maar dit is ook 100 jaar gelede dat die hoeksteen van die Gill-gebou se sentrale vierkantgedeelte gelê is.
Gill is van voorneme om in 2019, met Gill se 150ste bestaansjaar, weer seuns te stuur om aan hierdie veld- en baangeleentheid deel te neem.