NADAT verlede week se storie oor die slang by Rus-’n-bietjie van Roelf en Marietjie Steyn in die Mid-Karoo Express verskyn het, het ons ook woord vanaf Fanus en Retha Smit ontvang dat hul sover die jaar al drie verskillende soorte slange in hul huis opgemerk het.
Dít nadat hul vir die 38 jaar wat hul in hul huis bly géén slange vantevore gewaar het nie.
Die eerste was ’n slang met geel vlekke op die rug. Dié slang, wat korter as ’n meter was, is in hul gang gevind. ’n Ruk daarna is ’n geelslangetjie, ook omtrent dieselfde lengte, in hul huis gevind. Daar is dadelik ’n plan gemaak met die twee slange en hul is uit die huis en omgewing verwyder.
Die afgelope week het Retha egter die verrassing van haar lewe gehad toe sy in haar opwaskombuis instap, en die slang sit gerieflik rondom haar krane van die wasbak gedrapeer. Sy kon daarin slaag om die slang met ’n besem daar vasgekeer te hou, maar omdat sy alleen in die huis was, het sy ná ’n ruk moed opgegee, en padgegee – so vinnig as wat sy kon, en die deur agter haar toegetrek. Toe Fanus later tuiskom met die werkers het hulle die opwaskombuis omgekeer. Die wasmasjien, skottelgoedwasser en gasstoof is onderste-bo gedraai, maar geen teken van die slang kon gevind word nie. Hul het wel die mis van die slang opgespoor onder die gasstoof en duidelike tekens dat dit sy tuiste is. Maar slang self was weg . . .
’n Dag of drie later was Retha weer alleen in die huis toe sy ’n bord in die opwaskombuis hoor val. By nadere ondersoek sien sy weer die slang daar by die wasbak. Sy trek toe dadelik die deur toe, en – omdat niemand haar glo nie – gryp sy haar selfoon en hardloop buite om die huis om die slang van buite te besigtig. Sy kon ’n foto geneem kry, maar die slang het verdwyn toe hy die roering voor die venster gewaar.
Ten minste het sy nou ’n bewys gehad, en met sy tuiskoms moes Fanus en die arbeiders weer die opwaskombuis omkeer. Hierdie keer het hul tot die wasbak uitgehaal, maar die slang is steeds soek.
Tot op datum het hul nog nie die slang opgespoor nie.
Dit is vermoedelik ’n geelslang of koperkapel, en Retha tref nou maar eenvoudig voorsorg sover sy kan deur die deure dig toe te hou.