Sneeuberg Traverse gereed om voete aan die gang te kry

“DRIE dae in jou lewe wat jy nooit sal vergeet nie.”.


“DRIE dae in jou lewe wat jy nooit sal vergeet nie.”

Só begin die uitnodiging om in te skryf vir een van Suid-Afrika se mees unieke en uitdagende veldwedlope – die Sneeuberg Tra-verse, wat weer eersdaags plaasvind.

’n Aantal jare gelede, toe die anti-hidro-brekingsbeweging net begin momentum kry het, het Willem Avenant van Karoo Running besef dat mense nie kan omgee vir ’n plek wat hulle nie ken nie.

Om toeriste na die Karoo te lok en hulle ’n egte waardering vir die ongeskonde na-tuurskoon te leer, het Karoo Running in 2016 die eerste Sneeuberg Traverse aangebied. Vir dié veldwedloop sal jy meer as net Chinatown tekkies nodig hê – die roete strek oor drie dae, 100 km en, natuurlik, een berg-reeks.

Die Sneeuberge is ’n 200 km-lange berg-reeks wat nestel tussen die Groot Karoo-dorpe van Middelburg, Cradock, Graaff-Reinet, Murraysburg, Nieu-Bethesda en Richmond.

Getrou aan sy naam, word dié bergreeks gereeld gekroon met sneeu in die koue Karoo-winters, en sommer góú sluit die Lootsberg- en Naudésbergpasse vir verkeer.

Gelukkig vind die Sneeuberg Traverse vanjaar darem eers van 3 tot 6 Oktober plaas, wanneer die lente dik hang in die kruielug van die Karoo. Vanjaar se unieke roete in die Murraysburg-omgewing is weer met groot moeite en ná vele kilometers se verkenning vasgestel.

Tydens die eerste en derde bene van dié veldwedloop lê drawwers onderskeidelik 32.3 km en 30.3 km af. ’n Mens raak egter net opgewonde oor die aansienlik korter 20.9 km van dag 2 totdat jy agterkom dat jy tydens dié legendariese tweede been feitlik ononderbroke van 1 382 m hoogte bo see- spieël tot 1 589 m klim.

Ene Hendri Schoeman lewer op Facebook kommentaar oor dié been: “ . . . lyk vir my of hy ontwerp is om jou dors of dood te maak,” waarop die organiseerders ant- woord: “Dit is hoekom ons ’n chopper by einde van stage het, om jou terug te vat kamp toe. Dit is so mooi, jy sal nie eens weet jy raak moeg nie.”

En mooi ís die roete beslis: jou tekkies trap spore deur versteekte klowe, helder waterstrome en verlate poele, sowel as Khoi-San grotte, populierbosse en ruïnes wat deur vroeë Setlaars agtergelaat is.

Die Sneeuberg Traverse is nie bedoel vir platsakdrawwers nie, maar jou R4 850 inskrywingsgeld dek alle etes, tent-akkommodasie en natuurlik, die nuut bygevoegde helikopterrit saam met Fly Karoo Air Services.

Willem vertel dat die Sneeuberg Traverse nie bedoel is om in deelnemergetalle ’n bedreiging vir die Comrades te wees nie.

“Ons hou die Traverse klein, omdat ons hele fokus daarop is om mense ’n intieme ervaring te bied – die natuurskoon is maar slegs één van die aspekte wat deelnemers kan geniet.

“Saans kuier en eet ons heerlik saam, en met ’n té groot groep raak dit onpersoonlik. Dik vriendskappe het nou al tussen vorige ‘Sneeubergers’ ontstaan – mense wat me- kaar van geen kant af geken het nie.”

Om meer oor die Sneeuberg Traverse uit te vind, besoek www.karoorunning.weebly.com.

You need to be Logged In to leave a comment.