Somerset-Oos maak gereed vir 41ste marathon

OP Saterdag, 21 April, sal die 41ste Bruintjieshoogte-ultramarathon in Somerset-Oos plaasvind.


OP Saterdag, 21 April, sal die 41ste Bruintjieshoogte-ultramarathon in Somerset-Oos plaasvind.

Dit is die oudste ultramarathon in die Oos-Kaap en atlete wat al aan hierdie marathon deelgeneem het, is trots om daarmee vereenselwig te word.

Die “Bruintjies”, soos alle padatlete dit oor die jare leer ken het, is baie gewild en het al meer as 500 deelnemers op ’n slag van hierdie streek en elders gelok.

Die Somerset-Oos-atletiekklub is verantwoordelik vir hierdie geleent-heid en tref dus al die reëlings.

“Ons sien uit na die wedloop en verwelkom graag al die besoekers, sowel as atlete, en hoop dat almal die wedloop sowel as die mooi dorp en natuurskoon sal geniet,” het Henrico Marais, voorsitter van die atletiekklub, gesê.

Vanjaar se marathon sal egter nie soos altyd van Pearston, oor Bruintjieshoogte tot in Somerset-Oos plaasvind nie, maar wel van Somerset-Oos af tot bo-op die Bruintjieshoogte-pas en dan terug tot in die dorp.

Hierdie verandering van roete bring mee dat dit die logistiek vergemaklik en so skakel dit dan ook daardie baie vroeë vervoer van die atlete met die bus na Pearston toe uit.

Soos gewoonlik kan die deelnemers weer die mooie natuurskoon van heuwels en valleie geniet en kan hulle dalk ook gelukkig wees om wild soos koedoes, elande, swartwitpense en veel meer te sien.

Atlete wat aan hierdie marathon se vereistes voldoen, kwalifiseer vir die Comrades-marathon wat eersdaags plaasvind. Baie atlete beskou die Bruintjies as goeie oefening voor hulle die uitmergelende Comrades aanpak.

Die verskillende afstande en wegspringtye is soos volg:

50km – 06:00, 25km en 15km – 07:00 en 5km – 08:00.

Alle atlete wat die wedloop suksesvol voltooi, ontvang medaljes en die wenners ontvang prysgeld.

Op die Vrydagaand, 20 April, voor die Bruintjies word ’n pastapartytjie by die Laerskool Gill in Kollegeweg aangebied.

Kaartjies sal by die deure beskikbaar wees en registrasie vir die marathon kan ook daar gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.