Somerset-Oos se skou is vir oud én jonk

DIE jaarlikse Somerset-Oos-skou word van 6 tot 8 September aangebied.


DIE jaarlikse Somerset-Oos-skou word van 6 tot 8 September aangebied.

Die skou groei jaarliks en daar is reeds heelwat inskrywings ontvang. Inwoners en besoekers word aangemoedig om die skou te besoek, wat beloof om iets vir jonk en oud te bied.

Dié skou is die oudste Boerbok-skou in die wêreld. Vanjaar bied die Somerset-Oos-skou ook die Oos-Kaap Boerbok en Kalahari red-kampioenskapsbyeenkoms op Donderdag, 6 September vanaf 10:00 aan.

Donderdagaand word alle vertoners en borge, asook uitstallers by ’n kaas-en-wyn funksie in die skousaal onthaal.

Op Vrydag is die kleinvee-afdeling aan die beurt. Ook hier word goeie inskrywings verwag. Verskeie van die plaaslike stoete sal teen mekaar meeding, asook boere van elders.

Daar is ook reeds inskrywings vanoor die hele Oos-Kaap vir die perde-afdeling ontvang en die kompetisie sal baie sterk wees.

Die beoordelaars is Jaco Jonker, De Wet Human en André Botha. Die verskillende klasse begin Vrydag om 07:30 en hou aan tot laat Saterdagmiddag.

Jan en Roana Nel, asook Johan le Roux is vanjaar in beheer van die jeugskou wat op Vrydag, 7 September plaasvind. Die OP Jeugskou-span sal ’n demonstrasie aanbied en sal ook aan die skou deelneem.

Vir die plaaslike jeug is daar ’n vleisbok-afdeling, sowel as kulinêre kuns-afdeling. Inskrywingsvorms is by Ezelle Marais by 082 552 2309 beskikbaar.

Staanplek vir stalletjies is vinnig besig om vol te word en uitstallers vanaf George, De Aar, Bloemfontein, Port Elizabeth en omstreke sal hul ware kom vertoon. Daar sal ook heerlike kosstalletjies wees, asook lekker vermaak vir die kinders.

Op Vrydagaand word die skoudans gehou – ’n hoogtepunt op die dorp se kalender. Willemien Wilke is in beheer van die dans en die Round Table sal vir die heerlike steak-ete verantwoordelik wees.

Kaartjies is by die skoukantoor of by Willemien by 073 798 5986 beskikbaar.

Die Saterdagoggend bied die VLV ’n damesoggend aan met Susan Coetzer as gasspreker. Kaartjies hiervoor is by VLV-lede of Julita Puren by 082 707 7865 beskikbaar.

Jac Jordaan is die sameroeper vir die Boerbok-afdeling. Kontak hom by 073 856 7179. Johannes de Jager is die sameroeper vir die kleinvee-afdeling en kan by 082 498 9866 gebel word.

Fanie van Aardt is in beheer van die perde-afdeling.

You need to be Logged In to leave a comment.