LEDE van die Tuinbouklub van Somerset-Oos het tydens hul onlangse vergadering op ’n uitstappie na Bedford gegaan.
Bedford is bekend vir sy jaarlikse tuinskou wat vanjaar van 19 tot 21 Oktober plaasvind. Verskeie plase en tuine wat besoek is het gesorg vir talle idees om tuine en huise op te kikker hierdie Lente.
Die eerste stop was by Fairview, Riaan en Ilze van Rensburg se plaas in die Somerset-Oos distrik. Ilze het beïndruk met haar stories van hoe die plaashuis voorheen gelyk het en hoekom hulle oor ongeveer twee jaar sekere veranderings en aanbouings gedoen het om by hul styl en behoeftes te pas.
Baie opvallend was die hergebruik van voorwerpe wat in die huis was. Hout wat in die ou huis uitgehaal is, is gebruik as stutbalke, rakke en kapstokke. Dieselfde ligte is net weer in ander kamers gehang. Sy het haar talent gewys deur haar skoonma se meubels met ’n verfkwas in iets besonders te verander.
Daarna is die groep na Tara Vorster se Long Garden in Bedford. Haar tuin is deur ’n bekende tuinkundige uitgelê en strek van straat tot straat. Die meerjarige plante en saailinge is al pragtig vol in die knop reg vir Bedford se tuinskou.
Vandaar is die toergroep na Nellie van Aardt se tuin en huis wat ’n lus vir die oog is. Die tuin is bewys dat geharde plante goeie fokuspunte is indien hulle reg geplant word. Daarna het sy vir die besoekers die gerestoureerde trunk oopgesluit. Die ou klipmure laat die meubels op hul beste vertoon. Daar was ’n paar verrassings – veral die kombuis met die ekstra groot kaggel.
Middagete was by Apprentice. Mooi en smaaklike disse is voorgesit en die diens was ook uit die boonste rakke.
Na middagete is die groep na Eaglewood meubelfabriek en herwinningsaanleg. Lana Blom het hulle deur die hele kompleks asook die tuin geneem waar sy die tuin met mure toegebou het deur gebruik te maak van herwonne plastiekbottels. Hulle het hul eie kruie en groentetuin wat hulle in hul eetplek gebruik.