DIE Somerset-Oos Voortrekkers het ’n besige en genotvolle 2017 beleef en het op ’n goeie noot afgesluit, maar toe hulle weer sien, klop 2018 aan die deur.
Op 22 Februarie was dit vir die Voortrekkers en offisiere blye weersiens toe hulle by die Voortrekkersaal in Beaufortstraat bymekaar gekom het. Daar is met skriflesing en gebed geopen en toe was dit tyd vir lekker speletjies speel.
Moeg gespeel aan jukskei, hoefyster gooi, krokodil en bok-in-die-hok was dit tyd om die honger mae te stil. Die vuur het gebrand en gou is daar begin om stokbrood te braai en ’n paar vrolike Voortrekkerliedjies te sing.
Om seker te maak die slaapplek is reg, het hulle na hul onderskeie spankamers gegaan en gaan nesskrop. Intussen het Neef Hermann Burger vir hulle wors vir aandete gebraai waaraan almal heerlik kon smul. Vir nagereg het almal appelysies geëet.
Wat is ’n Voortrekkerkuier nou sonder koffie? Niemand kon “Koffie, koffie anders val ek om” begin sing van dors nie, want die geurige ketel met moerkoffie het die heeltyd op die vuur geprut en daar is donkeraand lekker koffie ge-drink. Moeg gekerjakker deur die dag en ná die aand se gesellige gekuier en geklets om die kampvuur, is die Voortrekkers leepoog bed toe.
Die volgende oggend het almal vroeg opge-staan om te help om alles op te ruim en ’n vinnige ontbyt van roosterkoek, wors en koffie te nuttig. Nadat afgesluit is met gebed, is almal huis toe.
Somerset-Oos Voortrekkers woon ook Oos-Kaap Penkoppe en Drawwertjies Spesdag by.
Die eerste van die vele aktiwiteite wat vir 2018 beplan is, het vinnig op die openingseremonie gevolg, naamlik die Oos-Kaap PD Spesdag op 10 Maart.
Somerset-Oos se Voortrekkergroep het Vry-dagmiddag met die bussie na die Van Stadenskloof Voortrekkerterrein gereis. Daardie aand was daar genoeg tyd vir speletjies speel en lekker eet, maar hulle moes vroeg bed toe om uit te rus vir die volgende dag se vele interessante aktiwiteite.
Nig Nadia Kapp het as hulpoffisier opgetree en het saam met die gr. R en gr. 2-groep Spesdag op die strand by Happy Valley vir seewaarneming-spesialisasie deurgebring. Die gr. 3 en gr. 7-groep het hul dag by die Van Stadenskloof Voortrekkerterrein deurgebring. Neef Hermann het as groepleier die gr. 4’s meer ingelig oor dierekennis, terwyl Nig Lizan Burger groepspele vir die gr. 5’s aangebied het.