BY die Hoërskool Middelburg in die Karoo het daar die afgelope Dinsdag groot opgewondenheid geheers toe die sonkarre wat aan die 10de Sasol Solar Challenge deelneem, een vir een stilweg by die gonsende skoolgronde ingesluip het.
Anders as die normale dreuning van petrol en dieselvoertuie, was die stille aankoms van die sonkarre ’n eerste ondervinding vir verskeie leerders, toeskouers en nuuskieriges op Middelburg. Die bestuurders van die voertuie het hul hande vol gehad by Middelburg waar die wind stormsterk begin waai het.
Gillende en jillende leerders het deelgeneem aan verskeie kaperjolle tussen Sasol se Gig Rig en Middies se self-georganiseerde boeresport. Die onderskeie klasse van die Hoërskool Middelburg het elkeen sy eie gunstelingspan onder die sonkarre gehad en met wapperende vlae en vrolike toejuiging die sonkarre een vir een by die skool verwelkom.
Die jongspan het hulself behoorlik gate uitgeniet en by navraag van ’n Nederlander aan ’n groepie Middies leerders oor of dit elke dag so bedrywig is by die skool, het hul opgewonde geantwoord, “Natuurlik! Ons is MAL daaroor om Middies te wees!”
So tussendeur het party ’n paar uitlandse woorde probeer aanleer in ruil vir Suid-Afrikaanse woorde. Tyd om nommers uit te ruil was daar egter glad nie, want voor jy die stof uit jou oë kon vryf, was die karre weer op pad om nog ’n rondte te gaan ry om hul batterye te laai.
By die kaperjolle by die Gig Rig het die jongspan glad nie terug gehou nie. Verskeie kompetisies met fantastiese pryse is geloods, waartydens die danskompetisie die grootste toejuiging ontvang het. Om ’n sonkar uit Lego-blokkies te bou, kompleet met sy eie sonpaneel, was ook ’n interessante uitdaging.
Daarna is gekyk wie se Lego-sonkar die verste kan ry. Leerders kon ook vir ’n plakkaatkompetisie inskryf waarop hulle hul eie idees oor onder meer wetenskap en herwinning op ’n A3-plakkaat moes uitdruk.
Die wenner hiervan was Tommie Olivier van die Hoërskool Middelburg. As wenprys het hy ’n kontantprys van R1 000 vir homself, asook R500 vir Juffrou Esté Botha en nog ’n verdere R1 500 vir sy skool losgeslaan!
Middies se boeresport het deur die wind en weer die jeug ook behoorlik besig gehou. Dit het slim aangesluit by Maandag se landwye Erfenisvieringe.
Hulle kon in spanne deelneem aan items soos driebeenresies, toutrek, sakspring, kussinggeveg, waterballon-gooi, vlugbal en lepelresies.
Leerders van die Primêre Skool Karel Theron het in hul tradisionele klere die dag kom ophelder en saam aan die boeresport en ander verrigtinge deelgeneem.