OP Vrydag, 26 Januarie, het Marlow se drie kleurspanne, die groen-, wit- en swartspan dit uitgespook om te sien wie gekroon sou word as 2018 se beste span.
’n Hewige donderstorm veroorsaak dat die byeenkoms gestaak word en eers weer op Dinsdag, 30 Januarie, hervat kon word.
Ten spyte van die omstandighede vaar Marlow se atlete nog steeds uitstekend.
Die groen span verdien 381 punte terwyl die wit span as die byeenkomswenners wegstap met ’n totaal van 513 punte.
Die swart span verseker ’n tweede plek met 393 punte. Gerhard “Pote” du Plessis van die witspan word aangewys as die byeenkoms se Junior Victor Ludorum met ’n totaal van 2 630 punte en Ambesa “Kwagga” Zenzile as die byeenkoms se Senior Victor Ludorum met ’n totaal van 2 571 punte.
Cradock Sone
Met die vorige week se byeenkoms nog vars in hul geheue, neem 106 van Marlow se atlete deel aan die jaarlikse Cradock Sone-byeenkoms.
Marlow het sommer vroegoggend gewys dat die dag aan hul behoort en samel altesaam 93 medaljes in (39 goud; 33 silwer en 21 brons).
Ambesa “Kwagga” Zenzile, Gerhard “Pote” du Plessis, Aidan “Apools” Richardson, Hlomla “Nugget” Mbaza, Eben “Budgie” Engelbrecht en Yanga “Bongi” Dinga word ingereken by die top 20 beste prestasies van die byeenkoms.
Dit was veral die junior, Pote du Plessis, wat beïndruk het met die 0.15 gewigstoot waarvoor hy ’n goue me-dalje ontvang het met ’n afstand van 15.22m. Baie sterkte aan ons, sowel as die buurskole se atlete wat dié naweek aan die Cradock-distrikte deelneem.