INWONERS van Cradock, sowel as ander belangstellendes, kan nou al ’n kringetjie om die datum 9 Oktober trek.
Dít is wanneer die langverwagte speurreeks wat op Cradock verfilm is, op die kassie gaan verskyn.
Die reeks, Spoorloos, speel af in die fiktiewe dorpie Digtersdal en die storie handel oor seuns tussen die ouderdom van 10 en 15 wat op ’n baie sinistêre wyse spoorloos verdwyn. Een van hulle is Neil Slabbert van die plaaslike hoërskool.
Verskeie sake-ondernemings, skole, persoonlikhede en huise op die dorp sal in die reeks te sien wees. Bekende Suid-Afrikaanse akteurs soos Deon Coetzee, Catriona Andrew, Francois Jacobs, Amalia Uys, Lieb Bester, Elsabé Daneel, Hannes van Wyk, Liz Meiring en vele ander sal ook in Spoorloos te sien wees.
Die reeks is gegrond op Daddy Longlegs, ’n boek deur die Suid-Afrikaanse skrywer Vernon Baumann.
- Skakel vanaf 9 Oktober om 20:00 in op DStv-kanaal 144 vir Spoorloos.