DIT het ’n werklikheid geword. Die filmspan is in Cradock en hulle is elke dag bedrywig met opnames by bekende plekke op die dorp.
Spoorloos, die film se naam, gaan in sestien episodes in Julie op kykNET uitgesaai word. Groot name in die Suid-Afrikaanse fliek- en televisiewêreld word op die dorp gesien.
Van die bekende akteurs en aktrises wat in Spoorloos gaan optree, is onder meer Hannes van Wyk, Lizz Meiring en Lieb Bester. André Odendaal, wat tans in Knapsekêrels op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien is, en Ilse van Heemert neem die regie waar.
Die film speel in ’n fiktiewe dorpie, Digtersdal, af en opnames is al onder meeer by skole, langs die Groot Visrivier, die Victoria Manor en JT Schooling begrafnisondernemers gemaak. Schoolings, wat Cradock se oudste, steeds werkende besigheid is, is vir die ge-leentheid omgetower in die kantoor van die Digtersdal Gazette. Selfs die polisiemotor kom van Digtersdal af.
Vir Hantie Fourie van Schoolings was Maandag ’n besondere dag – twee kantore by Schoolings is omskep in die kantore van die Digtersdal Gazette met aanplakbiljette, bon-dels koerante en al die ander dinge wat ’n koerantkantoor benodig.
’n Klompie inwoners van die dorp en distrik kry ook geleentheid om klein rolleltjies in Spoorloos te vertolk.