Jeswaan Boneparte, ’n Graad 11-leerder van Hoërskool Carel du Toit in Steytlerville, het op 15 Mei aan die finale rondte van die hoog aangeskrewe Proscenium Dramakompetisie deelgeneem.
Dit het gevolg nadat hy op 22 Maart aan die uitdunrondte in Gqeberha deelgeneem het, en een van slegs 60 leerders was wat deurgedring het na die finale rondte.
Die finale rondte van die Proscenium Dramakompetisie het by die ikoniese Artscape-teater in Kaapstad plaasgevind, waar Boneparte teen van die beste dramastudente in die land deelgeneem het.
Daar was vyf verskillende fases, maar hy het ongelukkig nie deurgedring na die finale fase nie.
Sy drama-afrigter, Ethan Vermaak, beklemtoon dat hy ten spyte daarvan uitstekend gevaar het en dat almal baie trots is op hom. “
Jeswaan was die enigste leerder van die Sarah Baartman-distrik wat gekwalifiseer het om aan die finale rondte deel te neem. Hy was fantasties, maar die kompetisie was net te sterk,” sê Vermaak.
“Volgende jaar sal hy weer deelneem, en dan sal hy nóg beter vaar met die ondervinding wat hy nou opgedoen het.”