EEN van die belangrikste take van veldnavorsers, gesetel by die Landboukollege Grootfontein, naby Middelburg, is om die beste praktiese veldbestuursprogramme vir veeplase te ontwerp. Om hierdie taak uit te voer, is dit noodsaaklik om veranderings in die veldbedekkings te monitor deur akkurate plantopnames. Sulke proewe word gewoonlik op plase uitgevoer wat deelneem aan koöperatieweproewe.
Deur plantopnames oor tyd te herhaal kan bepaal word of die proefbehandelings aandui watter weidingstrategie gevolg moet word. Dr. Piet Roux het vertel dat sy plantopnamespan bestaan het uit die persoon wat die plantbedekkingsopnames maak, twee veldkundiges wat plantspesies identifiseer, en ’n vierde wat die nodige spesies opskryf.
“Met een so ’n plantopname, in 1951, op ’n plaas in die Graaff-Reinetdistrik, het ’n uitsonderlike gebeurtenis plaasgevind. In daardie jaar was hondsdolheid ’n gevreesde en dodelike siekte, wat na die mens oorgedra kon word wanneer die persoon deur ’n dol hond gebyt word. Veeartse het bevind dat die bekende rooimeerkat ook ’n draer van die siekte was. Die plantopnamespan was dus deeglik bewus van die ge-vaar wat meerkatte ingehou het,” het dr Piet vertel.
Hy het verduidelik dat daar in Karoovelde dikwels kleiner en groter kaalkolle voorkom wat deel vorm van die opnamestatistiek. Tydens die spesifieke opname het die transeklyn ’n groterige kaalkol binnegegaan toe die amptenaar skielik hard skree, die disselboom neersmyt en gil: “Kyk daar!” terwyl hy wys na ’n graatjiemeerkat wat al in die rondte hardloop.
“Hondsdolheid is dadelik vermoed en ek het die span beveel om die aandag van die meerkat af te trek sodat ek hom kon bekruip en met die moersleutel – wat gebruik word om die apparaat uitmekaar te haal – die doodslag toe te dien.”
Soos die geluk dit wou hê het dr Piet die jong meerkat sonder moeite ’n dodelike kophou toegedien. Dit was duidelik dat die dier, wat al in die rondte om ’n sentrale punt gehardloop het, langer as ’n dag of twee hierdie gedrag uitgevoer het aangesien sy mis reeds in ’n sirkel gelê het.
“Toe ek die dooie meerkat aan sy stert optel om dit van nader te bekyk, het ek tot my verba-sing besef dat ek hom nie opgetel kon kry nie aangesien sy een voorpoot stewig in die grond vasgesit het. Selfs met redelike trekkrag kon ek die poot nie loskry nie en het ek toe maar my Joseph Rodgers-knipmes uitgehaal en sy geknelde pootjie uitgegrawe. Met die loskom van die poot was ’n ronde pypagtige gaatjie in die harde kaalkolblad, wat deur ’n valdeurspinnekop gemaak is, duidelik,” het hy vertel
Die verloop van hierdie rare insident het die span landboukundiges tot die gevolgtrekking laat kom dat die meerkat, wat hoofsaaklik insekvretend is, die spinnekop gejaag het en dat hy summier gevlug het na die veiligheid van sy gat. Die meerkat, in sy gretigheid om sy prooi te vang, het sy poot in die gaatjie gedruk om die spinnekop uit te trek maar, die ‘tragedie’ was dat sy lang naels toe oopgesprei het en met die terugtrekslag is die poot vasgeknel.
Na verdere ondersoek is nog ’n valdeurspinnekopgaatjie gevind waarvan die syagtige en byna onsigbare valdeurkleppie reeds die ronde opening verseel het.
“Eienaardig, dat hierdie unieke ‘veldtrage-die’ na al die jare nog steeds in my geheue bly vassteek as een van die uitsonderlike insidente wat ek in die veld teëgekom het,” het dr Piet sy storie afgesluit.