’N EIER is nie ’n ding om mee te speel nie. Of dit nou ’n hoendereier of ’n volstruiseier is. Jy moenie haastig wees, of jou gedagtes op ’n ander plek hê as jy ’n eier of eiers in jou hande het nie.
Ma het my gereeld gemaan om versigtig te wees wanneer ek laatmiddag gaan eiers uithaal het wanneer sy die hoenders kos gaan gee het. Die eiers moes versigtig uit die neste gehaal word en in die mandjie gepak word. En dan moes jy huis toe STAP met die volgelaaide mandjie, nie hardloop nie.
Dié vermanings het hulle oorsprong gehad nadat ek ’n slag deur die goggom vetplante geploeg het in my haas om die eiers gou by die huis te kry sodat ek verder kon gaan speel.
Vra ook maar vir Swaer Vivian oor eiers. Was ’n goeie amateurbokser op sy dag en het gereeld soggens gaan draf as deel van sy program om fiks te bly. En ’n rou eier weggesluk sodra hy klaar gedraf het. Was glo baie ge-sond om so te doen.
Daar was ook die keer toe ’n klein driejarige meisietjie haar oë nie kon glo toe sy die eerste keer ’n volstruiseier gesien het nie.
In elk geval, toe Vivian my destyds ’n jaar of wat later van sy ondervinding vertel het, het hy steeds geril en swaar gesluk aan die herinnering van daardie koue Cradockse wintersoggend.
Soos gewoonlik het hy gou ’n eier oopgebreek en in ’n glas met melk gegooi sodat dit kan regstaan vir wanneer hy klaar gedraf het. Hy is toe die stikdonker oggend in met ryp wat kraak onder sy gestewelde voete.
’n Uur of wat later draf hy weer in by die voorhekkie van hul huis, reguit na die kombuis waar hy sommer sonder om die lig aan te sit die glas met die eier en melk raakvat en die inhoud met een teug wegsluk.
Net om die volgende oomblik te besef daars fout. Groot fout. Saam met die aaklige smaak in sy mond sweef die sterk reuk van vrot eier by sy neusvleuels in. En hy haal die badkamer net betyds. Connie het later laggend vertel hoe haar man so wit soos ’n laken en swak uit die badkamer gekom het.
En net gesê het: “Nooit weer eier vir my nie!” Vivian was skoon siek. So erg dat hy amper nie die dag werk toe is nie.
Vir die driejarige Susan was die eerste aanskouing van ’n volstruiseier iets uit ’n ander wêreld. Die tagtigjarige Oom Abraham se oë glinster van genot met die terugflits aan sy dogter se episode met die volstruiseier daar-die dag.
Familie het die gesin op hulle plaas besoek en vir hulle volstruiseiers saamgebring.
Susan, wat toe nog net gewone hoender- eiers geken het, kon haar oë nie van dié yslike gedoentes afhou nie.
Die kuiermense was skaars weg toe klim sy op ’n stoel in die kombuis, gryp een van die eiers waar dit op die tafel neergesit was – en kry koers kamer toe waar haar ma siek was in die bed. Nés Vivian, ook te haastig.
Sy het die gang afgehardloop en toe sy haar draai by die slaapkamer in maak, gly sy op die mat en slaan met ’n hik neer soos ’n os. Net toe sy sê: “Kyk die gloot eiel Mamma.”
Die volstruiseier was in stukke. Wat mis-kien onder normale omstandighede nie te erg sou wees nie – dis net dat die eier vrot was. Dié yslike eier.
Susan was naar en flou geskrik. Haar ma was ook naar. En moenie praat van die aroma wat lank daarna in daardie kamer gehang het nie. Selfs ná al die geskrop en ontsmetting.
Susan het geweet nou is daar moeilikheid en het die hasepad gekies uit die huis uit. Maar dit het niks help nie. Haar pa het haar gou in die hande gekry en was reg om haar behoorlik te tugtig.
Maar hoe kan jy, het hy gevra, so ’n klein mensie pakgee as sy grootoog met ’n uitdrukking van die onskuldigheid self sê: “Ek wou net gou vir Mamma die gloot eiel wys. Hoe-kom het hy so sleg geluik, Pappa?”