STOEPSTORIES: WILNA DE KLERK

DR. Danie Roux van Middelburg sê dis nou die tyd van hittegolwe in die Karoo. Dis warm, die humiditeit is hoog, dis bedompig, jy sweet en die muskiete is uit op ’n bloedmakietie.


DR. Danie Roux van Middelburg sê dis nou die tyd van hittegolwe in die Karoo. Dis warm, die humiditeit is hoog, dis bedompig, jy sweet en die muskiete is uit op ’n bloedmakietie.

Snags smag jou uitgepute lyf na slaap, maar teen die tyd dat jy jou kussing ses keer omge-draai het en al sy kante ewe nat gesweet is, is die laken soos ’n wors om jou klewerige lyf opgerol. Uiteindelik dommel jy van pure uitputting ’n bietjie in. Maar dan, glo my vry, word jóú lyf – die hele een – die lekkerste somerpretpark vir al die muskiete in die distrik.

Die afgelope naweek het ek so ’n aanval met hand en tand probeer afweer. Niks het gehelp nie, maar ek het ’n les of twee geleer.

Muskiete – hulle is baie georden, want hul weermag bestaan net uit vroue – sit met hul voorvoetjies netjies bymekaar in ’n duikposisie terwyl hulle met hul agerpote aan plekke soos prentlyste, bo-op gordynkappe, in skoene of selfs stilletjies onder die bed vasklou.

Op ’n teken van die sersant majoor (v) gaan hulle vinnig bewegende vlerke oor tot aksie met ’n trillende gezoem wat spesiaal ingestel is op een hele desibel hoër as irriterend. Hulle swiep met ’n massabeweging, deur die spoedgrens, op die niksvermoedende slaper neer.

Hul suigsnawels is uit, bloedverdunners in, en hulle trap op jou met al drie pare pote stewig vas. En moet nou net nie dink daar is nie fynprowers onder hulle nie – bloed van die O-groep word glo net aan die beste swerms voorgesit, en hulle verkies glo klam, swetende lywe van mense wat hard asemhaal.

Musietmannetjies – die ordentlike goed – lewe van nektar, vrugtesap en water en het glo nie van hierdie terroristiese suigslurpe nie.

Nou weet ek almal gaan my probeer raad gee, maar hulle moet my nie vertel van olietjies, pomades of spuitjies wat hierdie zoemende kolonie in toom hou nie. Daar is eenvoudig nie iets wat jou van voor Klaas Vakie tot ná daeraad veilig beskerm nie. Ek wéét, want ek hét probeer!

Ek het selfs nou die nag, in die huis van ’n nie-roker, ure lank na vuurhoutjies gesoek om ’n groen spiraalbesigheid aan die brand te probeer steek “wat jou die hele nag deur sal beskerm”. Leë beloftes, want die groen krul was uitgebrand lank voordat die son opgekom het.

Met apologie aan AD Keet is daar maar net een raad: Muskiet, jou vabond, ek sal jou kry, van jou sal net ’n bloedkol bly, hier op my kamermure, deur jou vervlakste gonsery, deur jou gebyt en plaery, kon ek nie slaap vir ure.

You need to be Logged In to leave a comment.