Storm saai verwoesting in die Katriviervallei

INDIEN die gemeenskap van Tamboekiesvlei by Hertzog in die Katriviervallei enigsins getwyfel het aan die onheil wat met Vrydag die dertiende gepaardgaan, het hulle verlede week bevestiging daaroor gekry.


INDIEN die gemeenskap van Tamboekiesvlei by Hertzog in die Katriviervallei enigsins getwyfel het aan die onheil wat met Vrydag die dertiende gepaardgaan, het hulle verlede week bevestiging daaroor gekry.

’n Hewige storm, wat deur sommige as ’n tornado bestempel is, het op dié dag dié rustige landelike gemeenskap op sy kop gekeer.

Met Mid-Karoo Express se besoek aan die gebied verlede Saterdagoggend het verwronge dakplate, ontwortelde bome, en houtbalke oor ’n wye gebied verspreid gelê. Tussen die puin van vele huise het grootmense en kinders na waardevolle items gesoek en was vroue besig om kom-berse en klere op drade te hang om droog te word.

Werknemers van Eskom het kruis en dwars oor die gebied gery om loshangende kragdrade wat ’n gevaar vir veral kinders ingehou het, te be-veilig.

Huise waarvan die dakke heeltemal weggewaai het, was verlate en tussen die puin wat die storm agtergelaat het, het bokke rustig gewei.

Luidens Adrian de Klerk (25) is die tornado teen laatmiddag voorafgegaan deur blitse en swaar donderweer. Pikswart wolke het later in die hemelruim saamgepak. Teen 17:30 het alle hel losgebars.

“Daar was eers die dreuning soos dié van ’n groot vliegtuig en toe word ons vir meer as ’n uur gepeper met stormsterk winde en gietende reën wat gevoel het asof dit met emmers uit die hemel op ons neerdaal. Ek was nog nooit in my lewe so bang nie en het kliphard gebid. Die kinders het tjoepstil in hoekies gesit en deur die wasige vensters kon ek sien hoe sinkplate en dakbalke heen en weer vlieg”, het de Klerk gesê.

Die 27-jarige Eden Smith het beserings opgedoen nadat ’n deur met kosyn en al asook ’n paar sementblokstene op hom neergetuimel het. “Die wind het vreeslik aan die deur geruk en ek het dit met my rug gestut om te verhoed dat dit omwaai. Die volgende oomblik was ek onder stof en stene,” het Smith gesê.

Verskeie huise, veral dié wat met modderstene gebou is, het onder die geweld van die tornado meegegee. Inwoners wie se huise erg beskadig is moes die aand by familie en vriende gaan oorslaap.

Derduisende rande se skade is ook aan meubels, elektriese toestelle, klerasie en beddegoed aangerig. Soos in 2014, toe die gebied deur ’n soortgelyke tornado getref is, moet families nou weer van vooraf aan hul lewens begin bou.

Hope Malgas, LUR in die Provinsiale Wetgewer het Mid-Karoo Express gekontak en belowe om die ramp ’n saak van prioriteit te maak.

Teen Maandagmiddag het Nombulelo Maki van maatskaplike ontwikkeling Express gekontak en meege-deel dat ’n taakspan na die gebied op pad was om die skade te bepaal en bystand te bied. Sy het bevestig dat 19 huise op Hertzog, drie by Fairbairn en een by Katberg as ramphuise ver-klaar is. Dié families sal die nodige rampbystand kry, het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.