CRADOCK se eerste byeenkoms van die Ri-vieroewerprojek, wat daarop gemik is om die walle van die Groot Visrivier aan die dorp se kant skoon te maak, was ’n reuse sukses.
Ongeveer 50 deelnemers uit alle dele van die gemeenskap het verlede Saterdag by-mekaargekom vir die eerste operasie rivier-skoonmaak. Die groep ywerige werkers wat van 11:00 tot 15:00 die reuse taak aangepak het, het nie minder nie as 78 swart sakke vol gemors opgetel en laat wegry. Hulle het ook drie groot hope droë doringtakke wat daar gelê het, uitgebrand.
Die proses gaan oor twee weke (28 Julie) herhaal word om verder met die projek aan te gaan.
Alhoewel dit baie koud was en sommige van die deelnemers die volgende dag stywe spiere gehad het, was almal dit eens dat die projek suksesvol en heel prettig verloop het.
Belangstellendes wat op 28 Julie wil kom help, moet die oggend om 11:00 op die hoek van Bree- en Kruisstrate bymekaarkom. Daar word beoog om die hele gebied van die oewer, van die laagwaterbruggie tot by die Frans Loots-brug skoon te maak. Helpers wat wil saamspan moet hul eie swart of groen vullissakke saambring. Daar word ook aanbeveel dat huishoudelike of tuinhandskoene gedra word. Wanneer die projek voltooi is, word beplan om ’n ontspanningsarea in die gebied op te rig.