Doreen du Randt. Foto:DEONETTE HAGGARD


VOLGENS Doreen du Randt, die sekretaresse van die VLV op Somerset-Oos, het die onlangse vergadering by die Dienssentrum voorspoedig afgeloop, ten spyte van die feit dat dit Vrydag die 13de was.

Die kompetisies vir vars kruie en herfsblomme was goed verteenwoordig en dit was verblydend om te sien dat van die nuwe lede ook nou begin belangstel om aan die kompetisies deel te neem.

Julita Puren het meer inligting oor Afriforum en hul doel en werksaamhede deurgegee. Ook Johanna Murray se praatjie oor insulien was leersaam.

Marlene Botha, ondervoorsitter en same-roepster vir naaldwerk, het die spreekwoordelike haas uit die hoed gehaal en die gaste op ’n baie insiggewende besoek na Embroiderzel/EZ promosies geneem.

Dié klein fabriekie is in die Ou Handy House-gebou in Nojolistraat gevestig. Hier kon hulle sien en ervaar hoe die werkers die masjinerie se ratte laat draai om pragtige en kleurvolle ontwerpe op enige iets van pette tot tente te borduur.

Die eienares, Ezelle Marais, self ’n boervrou, vertel dat hulle ook herstelwerk aan klere doen en selfs trourokke maak.

Die volgende vergadering is op 4 Mei.

You need to be Logged In to leave a comment.