DIE sybokhaarmark het verlede week sy opwaartse tendens op die vierde somerveiling in Port Elizabeth voortgesit, en die volle aanbod is van die hand gesit.
Die 146 719kg bokhaar wat onder die ha-mer gekom het, is alles deur die kopers opgeraap. Verkope het ’n gemiddelde prys-styging van 5,2% getoon en die markaanwyser het op R269,25p/kg te staan gekom.
“Die aanbod het uit goeie kwaliteit haar bestaan, met uitstekende individuele skeersels. Die aanbod was fyner as met die vorige veiling met ook ’n beter skoonopbrengs.
“Alhoewel kleinbokkiehaar onderlyne effens laer verhandel het, was daar ’n goeie aanvraag vir die goeie kwaliteit kleinbokkiehaar, wat ’n 8,6%-styging in die markaanwyser tot gevolg gehad het.
“Kompetisie tussen die kopershuise was sterk, en het later in die dag verder toege-neem, met die wisselkoers wat redelik be-stendig was vanaf die vorige veiling. ’n Hoogste prys van R448,10 is betaal vir ’n baal 24 mikron goeie styl kleinbokkiehaar,” aldus die Sybokhaarraad.
Vergeleke met die vorige veiling, was prysstygings as volg: kleinbokkies (somer) styg 8,6%, jongbokke (somer) styg 4%, fyn grootbokke styg 4,4% en sterk grootbokke styg 5%.
Die vyfde veiling van die 2018-somerseisoen word op 8 Mei gehou.