Christo Noonan by ’n kalf in sy ouers se beeskraal op Tamboekiesvlei in Hertzog. Die kalf word nou hans grootgemaak nadat sy ma gesteel is.Foto:NOLAN VENTER


BESTAANSBOERE van Tamboekiesvlei by Hertzog in die Katriviervallei sit sedert Desember verlede jaar met hul hande in die hare weens hul vee wat soos mis voor die son verdwyn.

Hierdie klein gemeenskap wat hoofsaaklik met beeste, skape, bokke en pluimvee boer, is tans radeloos want selfs die plaaslike polisie kan hulle nie in hul stryd bystaan nie.

Daar is volgens hulle net geen terugvoering van owerhede rondom vee wat vermis raak nie.

Met Mid-Karoo Express se besoek aan die gemeenskap het Christo Noonan gesê hulle het reeds ses van sy ouers se beeste sedert verlede Desember verloor.

“Vir ons wat maar bestaansboere is, is dit ’n groot slag. Ons woon ver van groot winkels af en veral ons koeie voorsien ons van melk. Voorts is ons diere vir ons amper soos familie en dis altyd hartseer wanneer daar nie van ’n spesifieke dier rekenskap gegee kan word nie. Die diewe dwing ons op ons knieë. Ons belê so baie in hulle in terme van voer, medisyne en inspuitings en dan kom vat die diewe maar net,” het hy gesê.

Hy het twee kalwers in hul kraal uitgewys wat nou hans grootgemaak word omdat hul moeders gesteel is.

Die vermoede bestaan dat die beeste gesteel en dan op die swartmark verkoop word, maar daar is tans geen konkrete bewyse daarvoor nie.

Nog ’n inwoner, Dideka du Preez, het hartseer vertel hoe sy ook sedert Desember ses beeste verloor het.

“Hulle het nog een middag laat by ’n gruisgroefdam naby die huis water gedrink en die volgende oggend was hulle net weg.”

Volgens die 87-jarige Wykie Loots is agt van sy beeste ook die afgelope tyd gesteel.

“Ek is ’n pensioenaris wat elke jaar ’n bees op die stokvel verkoop om vir my bakkie se lisensie te betaal. Vanjaar moes ek dit uit my pensioengeldjies doen,” het hy gesê.

Nóg families wat ook beeste die afgelope tyd verloor het, is die Stirling-familie sowel as die Schaup-familie wat elk twee beeste verloor het.

Soektogte wat die families oor berge, dale en omringende woonbuurte geloods het, het sover niks opgelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.